Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 5:33-43 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

33. Die vrou, wat gevrees en gebeef het omdat sy wis wat met haar gebeur het, kom toe en val voor Hom neer en vertel Hom die hele waarheid.

34. En Hy sê vir haar: Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede en wees van jou kwaal genees.

35. Terwyl Hy nog spreek, kom daar mense van die owerste van die sinagoge se huis en sê: U dogter is dood. Waarom val u die Meester nog lastig?

36. Maar dadelik, toe Jesus die woord hoor wat gespreek is, sê Hy vir die owerste van die sinagoge: Moenie vrees nie; glo net.

37. En Hy het niemand toegelaat om saam met Hom te gaan nie, behalwe Petrus en Jakobus en Johannes, die broer van Jakobus.

38. En Hy kom in die huis van die owerste van die sinagoge en sien ’n rumoer: mense wat baie ween en huil.

39. En toe Hy binnegaan, sê Hy vir hulle: Waarom gaan julle so te kere en ween julle? Die kind is nie dood nie, maar slaap.

40. En hulle het Hom uitgelag. Maar Hy het almal uitgedryf en die vader van die kind saamgeneem en die moeder en die wat by Hom was, en ingegaan waar die kind lê.

41. Toe gryp Hy die hand van die kind en sê vir haar: Talíta, koemi! wat, as dit vertaal word, beteken: Dogtertjie, Ek sê vir jou, staan op!

42. En die dogtertjie het dadelik opgestaan en begin rondloop, want sy was twaalf jaar oud. En hulle was uitermate verbaas.

43. En Hy het hulle met nadruk beveel dat niemand dit moes weet nie, en gesê dat daar vir haar iets te ete gegee moes word.

Lees volledige hoofstuk Markus 5