Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 4:5-20 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

5. En ’n ander deel het op ’n rotsagtige plek geval waar dit nie baie grond gehad het nie; en dadelik het dit opgekom, omdat dit geen diepte van grond gehad het nie.

6. En toe die son opgaan, is dit verskroei; en omdat dit geen wortel gehad het nie, het dit verdroog.

7. En ’n ander deel het in die dorings geval, en die dorings het opgekom en dit verstik; en dit het geen vrug opgelewer nie.

8. En ’n ander deel het in die goeie grond geval, en dit het vrug opgelewer; want dit het opgekom, en gegroei, en dit het gedra: een dertig- en een sestig- en een honderdvoudig.

9. En Hy sê vir hulle: Wie ore het om te hoor, laat hom hoor.

10. En toe Hy alleen was, het die wat saam met die twaalf rondom Hom was, Hom na die gelykenis gevra.

11. En Hy sê vir hulle: Aan julle is dit gegee om die verborgenheid van die koninkryk van God te ken, maar vir hulle wat buite is, kom alles deur gelykenisse,

12. sodat hulle kan kyk en kyk, en nie sien nie; en hoor en hoor, en nie verstaan nie, dat hulle hul nie miskien bekeer en die sondes hulle vergewe word nie.

13. En Hy sê vir hulle: Begryp julle nie hierdie gelykenis nie? En hoe sal julle al die gelykenisse verstaan?

14. Die saaier saai die woord.

15. En dit is hulle wat langs die pad is — waar die woord gesaai word, maar sodra hulle dit gehoor het, kom die Satan dadelik en neem die woord weg wat in hulle harte gesaai is.

16. Net so ook is hulle by wie op rotsagtige plekke gesaai word — wat, as hulle die woord hoor, dit dadelik met blydskap aanneem,

17. maar geen wortel in hulleself het nie; hulle is net vir ’n tyd. Later as daar verdrukking of vervolging kom ter wille van die woord, struikel hulle dadelik.

18. En hulle by wie in die dorings gesaai word — dit is hulle wat die woord hoor,

19. en die sorge van hierdie wêreld en die verleiding van die rykdom en die begeerlikhede in verband met die ander dinge kom in en verstik die woord, en dit word onvrugbaar.

20. En dit is hulle by wie in die goeie grond gesaai is — hulle wat die woord hoor en aanneem en vrugte dra: een dertig- en een sestig- en een honderdvoudig.

Lees volledige hoofstuk Markus 4