Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 2:1-14 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. EN ná ’n paar dae het Hy weer in Kapérnaüm gekom, en die mense het gehoor dat Hy in die huis was.

2. En dadelik het baie saamgekom, sodat daar selfs by die deur nie meer plek was nie; en Hy was besig om aan hulle die woord te verkondig.

3. En daar kom mense na Hom met ’n verlamde man wat deur vier gedra word.

4. En toe hulle vanweë die skare nie naby Hom kon kom nie, maak hulle die dak oop waar Hy was, en nadat hulle dit oopgebreek het, het hulle die bed waar die verlamde op lê, laat afsak.

5. En toe Jesus hulle geloof sien, sê Hy vir die verlamde: Seun, jou sondes is jou vergewe!

6. En sommige van die skrifgeleerdes het daar gesit en in hulle harte geredeneer:

7. Waarom praat hierdie man so godslasterlik? Wie kan sondes vergewe behalwe Een, naamlik God?

8. En Jesus het dadelik in sy gees geweet dat hulle by hulleself so redeneer, en Hy sê vir hulle: Wat redeneer julle oor hierdie dinge in jul harte?

9. Wat is makliker, om vir die verlamde te sê: Die sondes is jou vergewe! of om te sê: Staan op en neem jou bed op en loop?

10. Maar dat julle kan weet dat die Seun van die mens mag het om op die aarde sondes te vergewe — sê Hy vir die verlamde man:

11. Ek sê vir jou: Staan op, neem jou bed op en gaan na jou huis toe.

12. En dadelik staan hy op en neem sy bed op en gaan voor die oë van almal uit, sodat almal verbaas was en God verheerlik en sê: So iets het ons nog nooit gesien nie!

13. EN Hy het weer uitgegaan langs die see, en die hele skare het na Hom gekom, en Hy het hulle geleer.

14. En toe Hy verbygaan, sien Hy Levi, die seun van Alféüs, by die tolhuis sit en sê vir hom: Volg My. En hy het opgestaan en Hom gevolg.

Lees volledige hoofstuk Markus 2