Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 15:29-41 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

29. En die verbygangers het Hom gesmaad, terwyl hulle hul hoof skud en sê: Ha, U wat die tempel afbreek en in drie dae opbou,

30. verlos Uself en kom af van die kruis!

31. En so het ook die owerpriesters saam met die skrifgeleerdes gespot en vir mekaar gesê: Ander het Hy verlos, Homself kan Hy nie verlos nie.

32. Laat die Christus, die Koning van Israel, nou van die kruis afkom, sodat ons kan sien en glo! Ook die wat saam met Hom gekruisig is, het Hom beledig.

33. En toe dit die sesde uur was, kom daar duisternis oor die hele aarde tot die negende uur toe.

34. En die negende uur het Jesus met ’n groot stem uitgeroep en gesê: Eloï, Eloï, lamma sabagtáni? wat, as dit vertaal word, beteken: My God, my God, waarom het U My verlaat?

35. En sommige van die wat daar staan, hoor dit en sê: Kyk, Hy roep na Elía.

36. Toe hardloop een en maak ’n spons vol asyn en sit dit op ’n riet en laat Hom drink; en hy sê: Wag, laat ons sien of Elía kom om Hom af te haal.

37. Maar Jesus het met ’n groot stem geroep en die laaste asem uitgeblaas.

38. En die voorhangsel van die tempel het in twee geskeur van bo tot onder.

39. En toe die hoofman oor honderd wat daar reg voor Hom staan, sien dat Hy so uitgeroep en die laaste asem uitgeblaas het, sê hy: Waarlik, Hy was die Seun van God.

40. En daar was ook vroue wat van ver af dit aanskou het. Onder hulle was Maria Magdaléna ook, en Maria, die moeder van Jakobus, die kleine, en van Joses, en Salóme —

41. hulle wat Hom gevolg en Hom gedien het toe Hy in Galiléa was — en baie ander vroue wat saam met Hom opgegaan het na Jerusalem.

Lees volledige hoofstuk Markus 15