Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 13:23-37 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

23. Maar julle moet op jul hoede wees. Kyk, Ek het alles vir julle vooruit gesê.

24. MAAR in daardie dae, ná dié verdrukking, sal die son verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie,

25. en die sterre van die hemel sal val, en die kragte wat in die hemele is, sal geskud word.

26. En dan sal hulle die Seun van die mens op die wolke sien kom met groot krag en heerlikheid.

27. En dan sal Hy sy engele uitstuur, en Hy sal sy uitverkorenes uit die vier windstreke versamel, van die einde van die aarde af tot by die einde van die hemel.

28. En leer van die vyeboom hierdie gelykenis: Wanneer sy tak al sag word en sy blare uitbot, weet julle dat die somer naby is.

29. So weet julle ook, wanneer julle hierdie dinge sien gebeur, dat dit naby is, voor die deur.

30. Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie.

31. Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nooit verbygaan nie.

32. Maar van daardie dag en dié uur weet niemand nie, ook nie die engele in die hemel of die Seun nie, maar net die Vader.

33. PAS op, waak en bid, want julle weet nie wanneer die tyd daar is nie.

34. Dit is soos ’n man wat op reis is, wat sy huis agtergelaat en sy diensknegte volmag gegee het, en vir elkeen sy werk, en aan die deurwagter bevel gegee het om te waak.

35. Waak dan, want julle weet nie wanneer die eienaar van die huis kom nie: in die aand of middernag of met die haangekraai of vroeg in die môre nie;

36. dat hy nie miskien skielik kom en julle aan die slaap vind nie.

37. En wat Ek vir julle sê, sê Ek vir almal: Waak!

Lees volledige hoofstuk Markus 13