Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 11:8-26 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

8. Toe gooi baie mense hulle klere op die pad oop, en ander kap takke van die bome af en strooi dit op die pad.

9. En die wat voor geloop en die wat gevolg het, het uitgeroep en gesê: Hosanna! Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!

10. Geseënd is die koninkryk wat kom in die Naam van die Here, die koninkryk van ons vader Dawid! Hosanna in die hoogste hemele!

11. En Jesus het in Jerusalem gekom en in die tempel. En nadat Hy alles rondom bekyk het, en omdat dit al aand was, het Hy met die twaalf uitgegaan na Betánië.

12. EN die volgende dag, onderwyl hulle uit Betánië gaan, het Hy honger gehad;

13. en toe Hy op ’n afstand ’n vyeboom met blare sien, het Hy daarheen gegaan in die hoop om iets daaraan te vind; en toe Hy daarby kom, vind Hy niks as blare nie, want dit was nie die tyd van vye nie.

14. En Jesus spreek en sê vir hom: Laat niemand ooit in der ewigheid van jou ’n vrug eet nie! En sy dissipels het dit gehoor.

15. En hulle het in Jerusalem gekom; en toe Jesus in die tempel ingaan, begin Hy om die wat in die tempel verkoop en koop, uit te jaag; en die tafels van die geldwisselaars en die stoele van die duiweverkopers het Hy omgegooi;

16. en Hy het niemand toegelaat om enige voorwerp deur die tempel te dra nie.

17. En Hy het geleer en vir hulle gesê: Is daar nie geskrywe: My huis moet ’n huis van gebed genoem word vir al die nasies nie? Maar julle het dit ’n rowerspelonk gemaak.

18. En die skrifgeleerdes en die owerpriesters het dit gehoor en gesoek hoe hulle Hom kon ombring; want hulle was bang vir Hom, omdat die hele skare verslae was oor sy leer.

19. En toe dit laat word, het Hy uitgegaan buitekant die stad.

20. En toe hulle vroeg in die môre verbygaan, sien hulle die vyeboom, verdroog van die wortels af.

21. En Petrus het onthou en vir Hom gesê: Rabbi, kyk, die vyeboom wat U vervloek het, is verdroog.

22. Jesus antwoord en sê vir hulle: Julle moet geloof in God hê.

23. Want, voorwaar Ek sê vir julle dat elkeen wat vir hierdie berg sê: Hef jou op en werp jou in die see — en nie in sy hart twyfel nie, maar glo dat wat hy sê, sal gebeur — hy sal verkry net wat hy sê.

24. Daarom sê Ek vir julle: Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit sal ontvang, en julle sal dit verkry.

25. En wanneer julle staan en bid, vergeef as julle iets teen iemand het, sodat julle Vader wat in die hemele is, ook julle jul oortredinge mag vergewe.

26. Maar as julle nie vergewe nie, sal julle Vader wat in die hemele is, ook julle oortredinge nie vergewe nie.

Lees volledige hoofstuk Markus 11