Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 11:15-31 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

15. En hulle het in Jerusalem gekom; en toe Jesus in die tempel ingaan, begin Hy om die wat in die tempel verkoop en koop, uit te jaag; en die tafels van die geldwisselaars en die stoele van die duiweverkopers het Hy omgegooi;

16. en Hy het niemand toegelaat om enige voorwerp deur die tempel te dra nie.

17. En Hy het geleer en vir hulle gesê: Is daar nie geskrywe: My huis moet ’n huis van gebed genoem word vir al die nasies nie? Maar julle het dit ’n rowerspelonk gemaak.

18. En die skrifgeleerdes en die owerpriesters het dit gehoor en gesoek hoe hulle Hom kon ombring; want hulle was bang vir Hom, omdat die hele skare verslae was oor sy leer.

19. En toe dit laat word, het Hy uitgegaan buitekant die stad.

20. En toe hulle vroeg in die môre verbygaan, sien hulle die vyeboom, verdroog van die wortels af.

21. En Petrus het onthou en vir Hom gesê: Rabbi, kyk, die vyeboom wat U vervloek het, is verdroog.

22. Jesus antwoord en sê vir hulle: Julle moet geloof in God hê.

23. Want, voorwaar Ek sê vir julle dat elkeen wat vir hierdie berg sê: Hef jou op en werp jou in die see — en nie in sy hart twyfel nie, maar glo dat wat hy sê, sal gebeur — hy sal verkry net wat hy sê.

24. Daarom sê Ek vir julle: Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit sal ontvang, en julle sal dit verkry.

25. En wanneer julle staan en bid, vergeef as julle iets teen iemand het, sodat julle Vader wat in die hemele is, ook julle jul oortredinge mag vergewe.

26. Maar as julle nie vergewe nie, sal julle Vader wat in die hemele is, ook julle oortredinge nie vergewe nie.

27. EN hulle het weer in Jerusalem gekom. En terwyl Hy in die tempel rondwandel, kom die owerpriesters en die skrifgeleerdes en die ouderlinge na Hom

28. en sê vir Hom: Deur watter gesag doen U hierdie dinge, en wie het U dié gesag gegee om dit te doen?

29. En Jesus antwoord en sê vir hulle: Ek sal julle ook een ding vra, en antwoord julle My, dan sal Ek julle vertel deur watter gesag Ek hierdie dinge doen.

30. Die doop van Johannes, was dit uit die hemel of uit mense? Antwoord My.

31. En hulle het by hulleself geredeneer en gesê: As ons sê: Uit die hemel — sal Hy sê: Waarom het julle hom dan nie geglo nie?

Lees volledige hoofstuk Markus 11