Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 10:28-46 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

28. Toe begin Petrus vir Hom te sê: Kyk, ons het alles verlaat en U gevolg.

29. En Jesus antwoord en sê: Voorwaar Ek sê vir julle, daar is niemand wat huis of broers of susters of vader of moeder of vrou of kinders of grond ter wille van My en van die evangelie verlaat het nie,

30. of hy ontvang nou in hierdie tyd honderd maal soveel: huise en broers en susters en moeders en kinders en grond, saam met vervolginge, en in die eeu wat kom, die ewige lewe.

31. Maar baie wat eerste is, sal laaste wees, en die wat laaste is, eerste.

32. EN hulle was op die pad terwyl hulle opgaan na Jerusalem, en Jesus het voor hulle uit gegaan, en hulle was verbaas; en terwyl hulle volg, het hulle gevrees. En Hy het weer die twaalf by Hom geneem en aan hulle begin vertel die dinge wat met Hom sou gebeur.

33. Kyk, sê Hy, ons gaan op na Jerusalem, en die Seun van die mens sal oorgelewer word aan die owerpriesters en die skrifgeleerdes, en hulle sal Hom tot die dood veroordeel en Hom oorlewer aan die heidene;

34. en hulle sal Hom bespot en Hom gésel en op Hom spuug en Hom doodmaak; en op die derde dag sal Hy opstaan.

35. En Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedéüs, het na Hom gekom en gesê: Meester, ons wil hê dat U vir ons moet doen wat ons U ook al mag vra.

36. En Hy sê vir hulle: Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen?

37. En hulle antwoord Hom: Gee aan ons dat ons mag sit in u heerlikheid, een aan u regter- en een aan u linkerhand.

38. Maar Jesus sê vir hulle: Julle weet nie wat julle vra nie. Kan julle die beker drink wat Ek drink, en gedoop word met die doop waarmee Ek gedoop word?

39. En hulle antwoord Hom: Ons kan. Maar Jesus sê vir hulle: Dis waar, die beker wat Ek drink, sal julle drink, en met die doop waarmee Ek gedoop word, sal julle gedoop word;

40. maar om te sit aan my regter- en aan my linkerhand, berus nie by My om te gee nie, maar dit is vir hulle vir wie dit berei is.

41. En toe die tien dit hoor, begin hulle verontwaardig te word oor Jakobus en Johannes.

42. Maar Jesus het hulle na Hom geroep en vir hulle gesê: Julle weet dat die wat gereken word as owerstes van die nasies, oor hulle heers, en dat hulle groot manne oor hulle gesag uitoefen;

43. maar so moet dit onder julle nie wees nie, maar elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees.

44. En elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet almal se dienskneg wees.

45. Want die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ’n losprys vir baie.

46. EN hulle het in Jérigo gekom. En toe Hy en sy dissipels en ’n aansienlike skare uit Jérigo uitgaan, sit die blinde man, Bartiméüs, die seun van Timéüs, langs die pad en bedel.

Lees volledige hoofstuk Markus 10