Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 1:32-45 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

32. En toe dit aand geword het en die son onder was, het hulle na Hom gebring almal wat ongesteld en van duiwels besete was.

33. En die hele stad het by die deur saamgekom.

34. En baie wat aan allerhande siektes gely het, het Hy gesond gemaak en baie duiwels uitgedryf en die duiwels nie toegelaat om te praat nie, omdat hulle Hom geken het.

35. En vroeg in die môre, nog diep in die nag, het Hy opgestaan en uitgegaan en na ’n eensame plek vertrek en daar gebid.

36. En Simon en die wat by hom was, het Hom gevolg.

37. En toe hulle Hom vind, sê hulle vir Hom: Almal soek U.

38. En Hy sê vir hulle: Laat ons na die naburige dorpe gaan, sodat Ek ook daar kan preek; want daarvoor het Ek uitgegaan.

39. En Hy het die hele Galiléa deur in hulle sinagoges gepreek en die duiwels uitgedryf.

40. EN daar kom ’n melaatse na Hom toe wat Hom smeek en voor Hom op die knieë val en vir Hom sê: As U wil, kan U my reinig.

41. En Jesus het vir hom innig jammer gevoel en die hand uitgesteek en hom aangeraak en vir hom gesê: Ek wil, word gereinig!

42. En toe Hy dit sê, het die melaatsheid hom dadelik verlaat, en hy is gereinig.

43. En nadat Hy hom ernstig aangespreek het, stuur Hy hom dadelik weg

44. en sê vir hom: Pas op dat jy aan niemand iets vertel nie, maar gaan vertoon jou aan die priester en offer vir jou reiniging wat Moses voorgeskryf het, tot ’n getuienis vir hulle.

45. Maar hy het uitgegaan en begin om baie dinge rond te vertel en die saak rugbaar te maak, sodat Hy nie meer openlik in ’n stad kon ingaan nie; maar Hy was buite in verlate plekke, en hulle het van alle kante na Hom gekom.

Lees volledige hoofstuk Markus 1