Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 9:49-62 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

49. EN Johannes het geantwoord en gesê: Meester, ons het iemand gesien wat in u Naam die duiwels uitdryf; en ons het hom belet, omdat hy U nie saam met ons volg nie.

50. Maar Jesus sê vir hom: Moet hom nie belet nie, want wie nie teen ons is nie, is vír ons.

51. EN toe die dae van sy opneming nader kom, het Hy sy aangesig gerig om na Jerusalem te reis,

52. en boodskappers voor Hom uit gestuur; en hulle het vertrek en in ’n dorp van die Samaritane gekom om vir Hom klarigheid te maak.

53. En hulle het Hom nie ontvang nie, omdat Hy na Jerusalem op reis was.

54. En toe sy dissipels, Jakobus en Johannes, dit sien, sê hulle: Here, wil U hê ons moet sê dat vuur van die hemel afdaal en hulle verteer, soos Elía ook gedoen het?

55. Maar Hy draai Hom om en bestraf hulle en sê: Julle weet nie van hoedanige gees julle is nie;

56. want die Seun van die mens het nie gekom om die mense se lewe te verderf nie, maar te red. En hulle het na ’n ander dorp vertrek.

57. EN terwyl hulle op reis was, sê iemand op die pad vir Hom: Here, ek sal U volg, waar U ook mag gaan!

58. Toe sê Jesus vir hom: Die jakkalse het gate en die voëls van die hemel neste, maar die Seun van die mens het geen plek waar Hy sy hoof kan neerlê nie.

59. En Hy sê aan ’n ander een: Volg My. Maar hy antwoord: Here, laat my toe om eers my vader te gaan begrawe.

60. En Jesus sê vir hom: Laat die dooies hul eie dooies begrawe; maar gaan jy en verkondig die koninkryk van God.

61. En ’n ander een het ook gesê: Here, ek sal U volg, maar laat my eers toe om afskeid te neem van die wat in my huis is.

62. En Jesus antwoord hom: Niemand wat sy hand aan die ploeg slaan en agtertoe kyk, is geskik vir die koninkryk van God nie.

Lees volledige hoofstuk Lukas 9