Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 9:44-56 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

44. Bewaar hierdie woorde in julle ore; want die Seun van die mens sal oorgelewer word in die hande van die mense.

45. Maar hulle het hierdie woord nie verstaan nie, en dit was vir hulle bedek, sodat hulle dit nie sou begryp nie; en hulle was bang om Hom iets te vra oor hierdie woord.

46. EN daar het ’n redenering onder hulle ontstaan oor wie van hulle dan tog die grootste was.

47. En toe Jesus die redenering van hulle hart opmerk, neem Hy ’n kindjie en laat dié by Hom staan

48. en sê vir hulle: Elkeen wat hierdie kindjie ontvang in my Naam, ontvang My; en elkeen wat My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het; want wie die kleinste onder julle almal is, hy sal groot wees.

49. EN Johannes het geantwoord en gesê: Meester, ons het iemand gesien wat in u Naam die duiwels uitdryf; en ons het hom belet, omdat hy U nie saam met ons volg nie.

50. Maar Jesus sê vir hom: Moet hom nie belet nie, want wie nie teen ons is nie, is vír ons.

51. EN toe die dae van sy opneming nader kom, het Hy sy aangesig gerig om na Jerusalem te reis,

52. en boodskappers voor Hom uit gestuur; en hulle het vertrek en in ’n dorp van die Samaritane gekom om vir Hom klarigheid te maak.

53. En hulle het Hom nie ontvang nie, omdat Hy na Jerusalem op reis was.

54. En toe sy dissipels, Jakobus en Johannes, dit sien, sê hulle: Here, wil U hê ons moet sê dat vuur van die hemel afdaal en hulle verteer, soos Elía ook gedoen het?

55. Maar Hy draai Hom om en bestraf hulle en sê: Julle weet nie van hoedanige gees julle is nie;

56. want die Seun van die mens het nie gekom om die mense se lewe te verderf nie, maar te red. En hulle het na ’n ander dorp vertrek.

Lees volledige hoofstuk Lukas 9