Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 8:16-34 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

16. EN niemand steek ’n lamp op en maak dit met iets toe of sit dit onder ’n bed nie; maar hy sit dit op ’n staander, sodat die wat inkom, die lig kan sien.

17. Want daar is niks verborge wat nie openbaar sal word nie, of weggesteek wat nie bekend sal word en in die lig sal kom nie.

18. Pas dan op hoe julle hoor; want elkeen wat het, aan hom sal gegee word; en elkeen wat nie het nie, van hom sal weggeneem word ook wat hy dink dat hy het.

19. EN sy moeder en broers het na Hom gekom, en weens die skare kon hulle Hom nie bereik nie.

20. Toe bring hulle Hom die boodskap en sê: U moeder en u broers staan buite en wil U sien.

21. Maar Hy antwoord en sê vir hulle: My moeder en my broers is die wat die woord van God hoor en dit doen.

22. EN op een van daardie dae het Hy en sy dissipels in ’n skuit gegaan; en Hy het vir hulle gesê: Laat ons oorvaar na die oorkant van die see. En hulle het weggevaar

23. En terwyl hulle seil, raak Hy aan die slaap. Toe kom daar ’n stormwind op die see af en die skuit het begin vol word, en hulle was in gevaar.

24. En hulle het na Hom gegaan en Hom wakker gemaak en gesê: Meester, Meester, ons vergaan! Hy staan toe op en bestraf die wind en die watergolwe, en hulle het bedaar en daar het ’n stilte gekom.

25. En Hy sê vir hulle: Waar is julle geloof? Maar hulle was bang en verwonderd en het vir mekaar gesê: Wie is Hy tog, dat Hy selfs die winde en die water gebied en hulle Hom gehoorsaam is!

26. EN hulle het geseil na die land van die Gadaréners, wat reg anderkant Galiléa is.

27. En toe Hy aan wal uitklim, kom ’n sekere man uit die stad Hom tegemoet, wat vir ’n geruime tyd van duiwels besete was en geen klere gedra het nie; hy het ook nie in ’n huis gewoon nie, maar in die grafte.

28. En toe hy Jesus sien, skreeu hy uit en val voor Hom neer en sê met ’n groot stem: Wat het ons met U te doen, Jesus, Seun van die allerhoogste God? Ek bid U, moet my nie pynig nie —

29. want Hy het aan die onreine gees bevel gegee om uit die man uit te gaan. Want baiekeer het hy hom saamgesleep; en hulle het hom gebind met kettings en voetboeie om oor hom wag te hou; maar hy het die boeie uitmekaar geruk, en die duiwel het hom in die woestyne gedrywe.

30. Daarop vra Jesus hom en sê: Wat is jou naam? En hy antwoord: Legio — want baie duiwels het in hom ingevaar.

31. En hulle het Hom gesmeek dat Hy hulle nie sou beveel om in die onderwêreld af te vaar nie.

32. En daar het ’n groot trop varke op die berg gewei. Toe smeek hulle Hom dat Hy hulle sou toelaat om in dié varke in te vaar. En Hy het hulle toegelaat.

33. Daarop gaan die duiwels uit die man uit en vaar in die varke in, en die trop het van die krans af in die see gestorm en verdrink.

34. En toe die wagters sien wat gebeur het, het hulle gevlug en dit in die stad en in die buitewyke gaan vertel.

Lees volledige hoofstuk Lukas 8