Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 8:16-24 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

16. EN niemand steek ’n lamp op en maak dit met iets toe of sit dit onder ’n bed nie; maar hy sit dit op ’n staander, sodat die wat inkom, die lig kan sien.

17. Want daar is niks verborge wat nie openbaar sal word nie, of weggesteek wat nie bekend sal word en in die lig sal kom nie.

18. Pas dan op hoe julle hoor; want elkeen wat het, aan hom sal gegee word; en elkeen wat nie het nie, van hom sal weggeneem word ook wat hy dink dat hy het.

19. EN sy moeder en broers het na Hom gekom, en weens die skare kon hulle Hom nie bereik nie.

20. Toe bring hulle Hom die boodskap en sê: U moeder en u broers staan buite en wil U sien.

21. Maar Hy antwoord en sê vir hulle: My moeder en my broers is die wat die woord van God hoor en dit doen.

22. EN op een van daardie dae het Hy en sy dissipels in ’n skuit gegaan; en Hy het vir hulle gesê: Laat ons oorvaar na die oorkant van die see. En hulle het weggevaar

23. En terwyl hulle seil, raak Hy aan die slaap. Toe kom daar ’n stormwind op die see af en die skuit het begin vol word, en hulle was in gevaar.

24. En hulle het na Hom gegaan en Hom wakker gemaak en gesê: Meester, Meester, ons vergaan! Hy staan toe op en bestraf die wind en die watergolwe, en hulle het bedaar en daar het ’n stilte gekom.

Lees volledige hoofstuk Lukas 8