Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 8:11-25 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

11. Dit is dan die gelykenis: Die saad is die woord van God.

12. Dié langs die pad is die hoorders. Daarna kom die duiwel en neem die woord uit hul harte weg, sodat hulle nie sou glo en gered word nie.

13. En dié op die rots is hulle wat die woord met blydskap ontvang wanneer hulle dit hoor; en hulle het geen wortel nie, aangesien hulle net vir ’n tyd glo, en in die tyd van versoeking val hulle af.

14. En wat in die dorings geval het — dit is die wat gehoor het, en hulle gaan weg en word verstik deur die sorge en rykdom en genietinge van die lewe en dra geen ryp vrug nie.

15. En wat in die goeie grond val — dit is die wat, nadat hulle gehoor het, die woord in ’n edele en goeie hart hou en met volharding vrug dra.

16. EN niemand steek ’n lamp op en maak dit met iets toe of sit dit onder ’n bed nie; maar hy sit dit op ’n staander, sodat die wat inkom, die lig kan sien.

17. Want daar is niks verborge wat nie openbaar sal word nie, of weggesteek wat nie bekend sal word en in die lig sal kom nie.

18. Pas dan op hoe julle hoor; want elkeen wat het, aan hom sal gegee word; en elkeen wat nie het nie, van hom sal weggeneem word ook wat hy dink dat hy het.

19. EN sy moeder en broers het na Hom gekom, en weens die skare kon hulle Hom nie bereik nie.

20. Toe bring hulle Hom die boodskap en sê: U moeder en u broers staan buite en wil U sien.

21. Maar Hy antwoord en sê vir hulle: My moeder en my broers is die wat die woord van God hoor en dit doen.

22. EN op een van daardie dae het Hy en sy dissipels in ’n skuit gegaan; en Hy het vir hulle gesê: Laat ons oorvaar na die oorkant van die see. En hulle het weggevaar

23. En terwyl hulle seil, raak Hy aan die slaap. Toe kom daar ’n stormwind op die see af en die skuit het begin vol word, en hulle was in gevaar.

24. En hulle het na Hom gegaan en Hom wakker gemaak en gesê: Meester, Meester, ons vergaan! Hy staan toe op en bestraf die wind en die watergolwe, en hulle het bedaar en daar het ’n stilte gekom.

25. En Hy sê vir hulle: Waar is julle geloof? Maar hulle was bang en verwonderd en het vir mekaar gesê: Wie is Hy tog, dat Hy selfs die winde en die water gebied en hulle Hom gehoorsaam is!

Lees volledige hoofstuk Lukas 8