Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 8:1-13 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. EN daarna het Hy die een stad en dorp ná die ander deurgereis en gepreek en die evangelie van die koninkryk van God verkondig; en die twaalf was saam met Hom,

2. ook sekere vroue wat genees was van bose geeste en siektes: Maria wat Magdaléna genoem word, uit wie sewe duiwels uitgegaan het,

3. en Johanna, die vrou van Gusa, ’n bestuurder van Herodes, en Susanna en baie ander wat Hom almal met hulle besittings gedien het.

4. EN toe daar ’n groot menigte vergader, en die wat uit die verskillende stede by Hom aangesluit het, sê Hy aan hulle deur ’n gelykenis:

5. ’n Saaier het uitgegaan om sy saad te saai; en toe hy saai, val ’n deel langs die pad en is vertrap, en die voëls van die hemel het dit opgeëet.

6. En ’n ander deel het op die rots geval; en nadat dit opgeskiet het, het dit verdroog, omdat dit geen vogtigheid gehad het nie.

7. En ’n ander deel het tussen die dorings in geval; en die dorings het daarmee saamgegroei en dit verstik.

8. En ’n ander deel het in die goeie grond geval en gegroei en honderdvoudige vrug opgelewer. Toe Hy dit gesê het, roep Hy uit: Wie ore het om te hoor, laat hom hoor!

9. En sy dissipels het Hom gevra en gesê: Wat beteken hierdie gelykenis tog?

10. En Hy antwoord: Aan julle is dit gegee om die verborgenhede van die koninkryk van God te ken; maar aan die ander deur gelykenisse, sodat hulle, terwyl hulle sien, nie sien nie, en terwyl hulle hoor, nie verstaan nie.

11. Dit is dan die gelykenis: Die saad is die woord van God.

12. Dié langs die pad is die hoorders. Daarna kom die duiwel en neem die woord uit hul harte weg, sodat hulle nie sou glo en gered word nie.

13. En dié op die rots is hulle wat die woord met blydskap ontvang wanneer hulle dit hoor; en hulle het geen wortel nie, aangesien hulle net vir ’n tyd glo, en in die tyd van versoeking val hulle af.

Lees volledige hoofstuk Lukas 8