Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 7:4-23 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

4. En toe hulle by Jesus kom, het hulle Hom dringend gesmeek en gesê: Hy is dit werd dat U dit vir hom doen;

5. want hy het ons volk lief en het self die sinagoge vir ons gebou.

6. En Jesus het saam met hulle gegaan; maar toe Hy nie meer ver van die huis af was nie, stuur die hoofman oor honderd vriende na Hom om vir Hom te sê: Here, moenie moeite doen nie, want ek is nie werd dat U onder my dak inkom nie.

7. Daarom het ek my ook nie waardig geag om na U te gaan nie; sê dit maar met ’n woord, en my kneg sal gesond word.

8. Want ek is ook ’n man wat aan gesag onderworpe is, en ek het soldate onder my; en vir hierdie een sê ek: Gaan! en hy gaan; en vir ’n ander een: Kom! en hy kom; en vir my dienskneg: Doen dit! en hy doen dit.

9. Toe Jesus dit hoor, was Hy oor hom verwonderd, en Hy draai Hom om en sê vir die skare wat Hom volg: Ek sê vir julle, selfs in Israel het Ek so ’n groot geloof nie gevind nie.

10. En toe die wat gestuur was, teruggaan na die huis, vind hulle die siek dienskneg gesond.

11. EN die dag daarna was Hy op weg na ’n stad met die naam van Nain; en baie van sy dissipels en ’n groot menigte het saam met Hom gegaan.

12. En toe Hy naby die poort van die stad kom, word daar net ’n dooie uitgedra, die enigste seun van sy moeder, en sy was ’n weduwee; en ’n groot menigte van die stad was by haar.

13. En toe die Here haar sien, het Hy innig jammer vir haar gevoel en vir haar gesê: Moenie ween nie!

14. En Hy het nader gegaan en die baar aangeraak. Daarop staan die draers stil. En Hy sê: Jongman, Ek sê vir jou, staan op!

15. En die dooie het regop gaan sit en begin praat; en Hy het hom aan sy moeder teruggegee.

16. En vrees het almal aangegryp terwyl hulle God verheerlik en sê: ’n Groot profeet het onder ons opgestaan; en: God het sy volk besoek.

17. En hierdie woord aangaande Hom het uitgegaan in die hele Judéa en in die hele omtrek.

18. EN die dissipels van Johannes het hom van al hierdie dinge berig gebring.

19. En Johannes het sekere twee van sy dissipels na hom geroep en hulle na Jesus gestuur en gesê: Is U die Een wat sou kom, of moet ons ’n ander een verwag?

20. En toe die manne by Hom kom, sê hulle: Johannes die Doper het ons na U gestuur en gesê: Is U die Een wat sou kom, of moet ons ’n ander een verwag?

21. En in dieselfde uur het Hy baie mense genees van siektes en kwale en bose geeste, en aan baie blindes die gesig geskenk.

22. En Jesus antwoord en sê vir hulle: Gaan vertel aan Johannes wat julle sien en hoor: blindes sien weer, kreupeles loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek, aan armes word die evangelie verkondig.

23. En salig is elkeen wat aan My nie aanstoot neem nie.

Lees volledige hoofstuk Lukas 7