Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 7:36-50 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

36. EN een van die Fariseërs het Hom genooi om by hom te eet; en Hy het in die huis van die Fariseër gekom en aan tafel gegaan.

37. En toe ’n vrou in die stad, wat ’n sondares was, verneem dat Hy in die Fariseër se huis aan tafel was, het sy ’n albaste fles met salf gebring

38. en agter by sy voete gaan staan en geween; en sy het sy voete begin natmaak met haar trane en hulle afgedroog met die hare van haar hoof; en sy het sy voete gesoen en met salf gesalf.

39. Toe die Fariseër wat Hom genooi het, dit sien, sê hy by homself: Hy, as Hy ’n profeet was, sou geweet het wie en watter soort vrou dit is wat Hom aanraak; want sy is ’n sondares.

40. En Jesus antwoord en sê vir hom: Simon, Ek het iets om aan jou te sê. En hy antwoord: Meester, spreek.

41. Hy sê toe: ’n Sekere geldskieter het twee skuldenaars gehad; die een het vyfhonderd pennings geskuld en die ander een vyftig;

42. en omdat hulle niks gehad het om te betaal nie, het hy dit aan altwee geskenk. Sê nou, wie van hulle sal hom die meeste liefhê?

43. En Simon antwoord en sê: Ek veronderstel dié een aan wie hy die meeste geskenk het. En Hy antwoord hom: Jy het reg geoordeel.

44. Daarop draai Hy om na die vrou en sê vir Simon: Sien jy hierdie vrou? Ek het in jou huis gekom — water het jy nie vir my voete gegee nie; maar sy het met haar trane my voete natgemaak en met die hare van haar hoof afgedroog.

45. ’n Soen het jy My nie gegee nie; maar sy het, vandat sy ingekom het, nie opgehou om my voete te soen nie.

46. Met olie het jy my hoof nie gesalf nie; maar sy het my voete met salf gesalf.

47. Daarom sê Ek vir jou: Haar sondes wat baie is, is vergewe, want sy het baie liefgehad; maar hy vir wie weinig vergewe is, het weinig lief.

48. En Hy sê vir haar: Jou sondes is vergewe.

49. Toe begin die wat aan tafel was, by hulleself te sê: Wie is hierdie man wat selfs die sondes vergewe?

50. En Hy sê vir die vrou: Jou geloof het jou gered; gaan in vrede.

Lees volledige hoofstuk Lukas 7