Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 7:25-42 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

25. Maar wat het julle uitgegaan om te sien? ’n Man met sagte klere aan? Kyk, die wat pragtige klere dra en in weelde lewe, is in die paleise.

26. Maar wat het julle uitgegaan om te sien? ’n Profeet? Ja, Ek sê vir julle, nog baie meer as ’n profeet!

27. Dit is hy van wie daar geskrywe is: Kyk, Ek stuur my boodskapper voor u aangesig, wat u weg voor U uit sal regmaak.

28. Want Ek sê vir julle, onder die wat uit vroue gebore is, is daar geen profeet groter as Johannes die Doper nie; maar die kleinste in die koninkryk van God is groter as hy.

29. En toe die hele volk en die tollenaars dit hoor, het hulle God geregverdig deur hulle te laat doop met die doop van Johannes.

30. Maar die Fariseërs en die wetgeleerdes het die raad van God aangaande hulle verwerp deur hulle nie deur hom te laat doop nie.

31. Toe sê die Here: Waarmee sal Ek dan die mense van hierdie geslag vergelyk, en waaraan is hulle gelyk?

32. Hulle is net soos kinders wat op die mark sit en na mekaar roep en sê: Ons het vir julle op die fluit gespeel, en julle het nie gedans nie; ons het vir julle ’n klaaglied gesing, en julle het nie gehuil nie.

33. Want Johannes die Doper het gekom en het nie brood geëet of wyn gedrink nie, en julle sê: Hy het ’n duiwel.

34. Die Seun van die mens het gekom en Hy eet en drink, en julle sê: Daar is ’n mens wat ’n vraat en ’n wynsuiper is, ’n vriend van tollenaars en sondaars.

35. Maar die wysheid is geregverdig deur al sy kinders.

36. EN een van die Fariseërs het Hom genooi om by hom te eet; en Hy het in die huis van die Fariseër gekom en aan tafel gegaan.

37. En toe ’n vrou in die stad, wat ’n sondares was, verneem dat Hy in die Fariseër se huis aan tafel was, het sy ’n albaste fles met salf gebring

38. en agter by sy voete gaan staan en geween; en sy het sy voete begin natmaak met haar trane en hulle afgedroog met die hare van haar hoof; en sy het sy voete gesoen en met salf gesalf.

39. Toe die Fariseër wat Hom genooi het, dit sien, sê hy by homself: Hy, as Hy ’n profeet was, sou geweet het wie en watter soort vrou dit is wat Hom aanraak; want sy is ’n sondares.

40. En Jesus antwoord en sê vir hom: Simon, Ek het iets om aan jou te sê. En hy antwoord: Meester, spreek.

41. Hy sê toe: ’n Sekere geldskieter het twee skuldenaars gehad; die een het vyfhonderd pennings geskuld en die ander een vyftig;

42. en omdat hulle niks gehad het om te betaal nie, het hy dit aan altwee geskenk. Sê nou, wie van hulle sal hom die meeste liefhê?

Lees volledige hoofstuk Lukas 7