Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 6:14-25 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

14. Simon wat Hy Petrus genoem het, en Andréas, sy broer; Jakobus en Johannes; Filippus en Bartholoméüs;

15. Matthéüs en Thomas; Jakobus, die seun van Alféüs, en Simon wat Yweraar genoem word;

16. Judas, die seun van Jakobus, en Judas Iskáriot, wat die verraaier geword het.

17. EN Hy het met hulle afgeklim en op ’n gelyk plek gaan staan, en daar was ’n skare van sy dissipels en ’n groot menigte van die volk van die hele Judéa en Jerusalem en die kusstreek van Tirus en Sidon af,

18. wat gekom het om Hom te hoor en van hulle kwale genees te word; en die wat gekwel was deur onreine geeste, is ook genees.

19. En die hele skare het probeer om Hom aan te raak, omdat krag van Hom uitgegaan het, en Hy het almal gesond gemaak.

20. Toe slaan Hy sy oë op oor sy dissipels en sê: Salig is julle, armes, want aan julle behoort die koninkryk van God.

21. Salig is julle wat nou honger het, want julle sal versadig word. Salig is julle wat nou ween, want julle sal lag.

22. Salig is julle wanneer die mense julle haat, en wanneer hulle julle verstoot en beledig en jul naam weggooi soos iets wat sleg is, ter wille van die Seun van die mens.

23. Wees bly in daardie dag en spring op, want kyk, julle loon is groot in die hemel, want hulle vaders het net so aan die profete gedoen.

24. Maar wee julle, rykes, want julle het jul troos weg.

25. Wee julle wat vol is, want julle sal honger ly. Wee julle wat nou lag, want julle sal treur en ween.

Lees volledige hoofstuk Lukas 6