Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 4:1-12 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. EN Jesus het vol van die Heilige Gees teruggekeer van die Jordaan af, en is deur die Gees in die woestyn gelei,

2. waar Hy veertig dae lank deur die duiwel versoek is; en Hy het niks geëet in dié dae nie; en toe hulle verby was, het Hy naderhand honger geword.

3. Toe sê die duiwel vir Hom: As U die Seun van God is, sê vir hierdie klip dat dit brood moet word.

4. Maar Jesus antwoord en sê vir hom: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord van God.

5. Toe bring die duiwel Hom op ’n hoë berg en wys Hom al die koninkryke van die wêreld in ’n oomblik se tyd.

6. En die duiwel sê vir Hom: Ek sal U al hierdie mag gee en hulle heerlikheid, want dit is aan my oorgegee, en ek gee dit aan wie ek wil.

7. As U my dan aanbid, sal alles aan U behoort.

8. En Jesus antwoord en sê vir hom: Gaan weg agter My, Satan, want daar is geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.

9. Toe bring hy Hom na Jerusalem en stel Hom op die dak van die tempel en sê vir Hom: As U die Seun van God is, werp Uself hiervandaan neer.

10. Want daar is geskrywe: Hy sal sy engele bevel gee aangaande U om U te bewaar,

11. en hulle sal U op die hande dra, sodat U nie miskien u voet teen ’n klip stamp nie.

12. En Jesus antwoord en sê vir hom: Daar is gesê: Jy mag die Here jou God nie versoek nie.

Lees volledige hoofstuk Lukas 4