Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 24:4-18 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

4. En terwyl hulle hieroor in verleentheid was, staan daar twee manne by hulle in blink klere.

5. En toe hulle baie bevrees word en met hulle aangesigte na die aarde buig, sê die manne vir hulle: Waarom soek julle die Lewende by die dooies?

6. Hy is nie hier nie, maar Hy het opgestaan. Onthou hoe Hy vir julle gesê het toe Hy nog in Galiléa was:

7. Die Seun van die mens moet oorgelewer word in die hande van sondige mense en gekruisig word en op die derde dag opstaan.

8. En hulle het sy woorde onthou.

9. Hulle gaan toe terug van die graf en vertel dit alles aan die elf en aan al die ander.

10. En dit was Maria Magdaléna en Johanna en Maria, die moeder van Jakobus, en die ander vroue saam met hulle wat dit aan die apostels vertel het.

11. En hul woorde het vir hulle na onsinnige praatjies gelyk, en hulle het hul nie geglo nie.

12. Maar Petrus het opgestaan en na die graf gehardloop; en toe hy neerbuk, sien hy die doeke alleen lê. En hy het weggegaan huis toe, vol verwondering oor wat gebeur het.

13. EN twee van hulle was dieselfde dag op pad na ’n dorp wat agt myl van Jerusalem af was, met die naam van Émmaüs.

14. En hulle was in gesprek met mekaar oor al hierdie dinge wat voorgeval het.

15. En terwyl hulle praat en mekaar ondervra, kom Jesus self nader en loop met hulle saam.

16. Maar hulle oë is weerhou, sodat hulle Hom nie kon herken nie.

17. En Hy sê vir hulle: Watter woorde is dit wat julle met mekaar loop en wissel, en waarom is julle bedroef?

18. En die een wie se naam Kléopas was, antwoord en sê vir Hom: Is U alleen ’n vreemdeling in Jerusalem en weet U nie van die dinge wat in hierdie dae daarin gebeur het nie?

Lees volledige hoofstuk Lukas 24