Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 24:19-36 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

19. En Hy sê vir hulle: Watter dinge? En hulle antwoord Hom: Die dinge aangaande Jesus, die Nasaréner, wat ’n profeet was, kragtig in werk en woord voor God en die hele volk;

20. en hoe ons owerpriesters en owerstes Hom oorgelewer het tot die doodstraf en Hom gekruisig het.

21. En ons het gehoop dat dit Hy was wat Israel sou verlos; maar nou is dit vandag, met dit alles, die derde dag vandat dit plaasgevind het.

22. Maar sommige vroue uit ons het ons ook ontstel nadat hulle vroeg by die graf was;

23. en toe hulle sy liggaam nie kry nie, het hulle gekom en gesê dat hulle ook ’n gesig gesien het van engele wat sê dat Hy lewe.

24. En sommige van die wat saam met ons was, het na die graf gegaan en dit net so gevind soos die vroue ook gesê het; maar Hom het hulle nie gesien nie.

25. En Hy sê vir hulle: o Onverstandiges, met harte wat traag is om te glo alles wat die profete gespreek het!

26. Moes die Christus nie hierdie dinge ly en in sy heerlikheid ingaan nie?

27. En Hy het begin van Moses en al die profete af en vir hulle uitgelê in al die Skrifte die dinge wat op Hom betrekking het.

28. Daarop kom hulle naby die dorp waarheen hulle op reis was, en Hy het gemaak of Hy verder wou gaan;

29. maar hulle het by Hom aangedring en gesê: Bly by ons, want dit is amper aand en die dag het gedaal; en Hy het ingegaan om by hulle te bly.

30. En toe Hy met hulle aan tafel was, neem Hy die brood en dank; en Hy breek dit en gee dit aan hulle.

31. Toe is hulle oë geopen en hulle het Hom herken, en Hy het uit hulle gesig verdwyn.

32. En hulle sê vir mekaar: Was ons hart nie brandende in ons toe Hy met ons op die pad gepraat en vir ons die Skrifte uitgelê het nie?

33. Toe staan hulle in dieselfde uur op en gaan na Jerusalem terug en vind die elf en die wat saam met hulle bymekaar was,

34. wat sê: Die Here het waarlik opgestaan en het aan Simon verskyn.

35. Toe vertel hulle wat op die pad gebeur het en hoe Hy aan hulle bekend geword het by die breking van die brood.

36. EN terwyl hulle hieroor praat, staan Jesus self in hul midde en sê vir hulle: Vrede vir julle!

Lees volledige hoofstuk Lukas 24