Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 23:33-48 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

33. EN toe hulle op die plek kom wat Hoofskedel genoem word, het hulle Hom daar gekruisig, en die kwaaddoeners, een aan die regter- en een aan die linkerkant.

34. En Jesus sê: Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie. En hulle het sy klere verdeel en die lot daaroor gewerp.

35. En die volk het dit staan en aanskou. En die owerstes het saam met hulle ook geskimp en gesê: Ander het Hy verlos; laat Hy Homself verlos as Hy die Christus, die uitverkorene van God, is.

36. En die soldate het Hom ook bespot en gekom en vir Hom asyn gebring

37. en gesê: As U die Koning van die Jode is, verlos Uself.

38. En daar was ook ’n opskrif bokant Hom geskrywe in Griekse en Romeinse en Hebreeuse letters: HY IS DIE KONING VAN DIE JODE.

39. En een van die kwaaddoeners wat opgehang is, het Hom gesmaad en gesê: As U die Christus is, verlos Uself en ons.

40. Maar die ander een antwoord en bestraf hom en sê: Vrees jý ook God nie, terwyl jy in dieselfde oordeel is? —

41. ons tog regverdiglik, want ons ontvang die verdiende loon vir ons dade, maar Hy het niks verkeerds gedoen nie.

42. En hy sê vir Jesus: Dink aan my, Here, wanneer U in u koninkryk kom.

43. En Jesus antwoord hom: Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees.

44. En dit was omtrent die sesde uur, en daar het duisternis oor die hele aarde gekom tot die negende uur toe;

45. en die son is verduister; en die voorhangsel van die tempel het middeldeur geskeur.

46. En Jesus het met ’n groot stem uitgeroep en gesê: Vader, in u hande gee Ek my gees oor! En toe Hy dit gesê het, blaas Hy die laaste asem uit.

47. En toe die hoofman oor honderd sien wat daar gebeur, het hy God verheerlik en gesê: Waarlik, hierdie man was regverdig.

48. En die hele skare wat vir hierdie skouspel bymekaar was, het op hulle borste geslaan toe hulle sien wat gebeur het, en hulle het teruggegaan.

Lees volledige hoofstuk Lukas 23