Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 22:35-45 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

35. EN Hy sê vir hulle: Toe Ek julle uitgestuur het sonder beurs en reissak en skoene, het julle iets kortgekom? En hulle antwoord: Niks nie.

36. Toe sê Hy vir hulle: Maar nou, wie ’n beurs het, laat hom dit neem en so ook die reissak; en wie dit nie het nie, moet sy kleed verkoop en ’n swaard koop.

37. Want Ek sê vir julle dat dit wat geskrywe is, nog aan My vervul moet word: En Hy is saam met misdadigers gereken. Want ook aan die dinge wat betrekking het op My, kom daar ’n einde.

38. Hulle sê vir Hom: Here, kyk hier is twee swaarde. En Hy antwoord hulle: Dit is genoeg.

39. EN Hy het vertrek en volgens gewoonte na die Olyfberg gegaan. En ook sy dissipels het Hom gevolg.

40. En toe Hy op die plek kom, sê Hy vir hulle: Bid dat julle nie in versoeking kom nie.

41. En Hy het Hom van hulle afgesonder omtrent so ver as ’n mens met ’n klip kan gooi, en neergekniel en gebid

42. en gesê: Vader, as U tog maar hierdie beker van My wil wegneem! Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geskied!

43. En ’n engel uit die hemel het aan Hom verskyn en Hom versterk.

44. En toe Hy in ’n sware stryd kom, het Hy met groter inspanning gebid, en sy sweet het geword soos bloeddruppels wat op die grond val.

45. Toe staan Hy van die gebed op en kom by sy dissipels en vind hulle aan die slaap van droefheid.

Lees volledige hoofstuk Lukas 22