Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 22:22-40 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

22. Die Seun van die mens gaan wel heen volgens wat bepaal is, maar wee daardie man deur wie Hy verraai word!

23. Toe begin hulle onder mekaar te vra wie van hulle dit tog kon wees wat dit sou doen.

24. EN daar het ook twis onder hulle ontstaan oor wie van hulle die grootste geag moet wees.

25. En Hy het vir hulle gesê: Die konings van die nasies heers oor hulle, en die wat gesag voer oor hulle, word weldoeners genoem.

26. Maar so moet julle nie wees nie; maar die oudste onder julle moet word soos die jongste, en wie ’n leier is, soos een wat dien.

27. Want wie is groter: die een wat aan tafel is, of die een wat dien? Is dit nie hy wat aan tafel is nie? Maar Ek is onder julle soos een wat dien.

28. En dit is julle wat altyddeur by My gebly het in my versoekinge.

29. En Ek beskik vir julle ’n koninkryk soos my Vader dit vir My beskik het,

30. sodat julle kan eet en drink aan my tafel in my koninkryk en op trone sit om die twaalf stamme van Israel te oordeel.

31. EN die Here sê: Simon, Simon, kyk, die Satan het vurig begeer om julle soos koring te sif.

32. Maar Ek het vir jou gebid, dat jou geloof nie ophou nie; en as jy eendag bekeerd is, moet jy jou broeders versterk.

33. En hy het vir Hom gesê: Here, ek is gereed om saam met U selfs in die gevangenis en in die dood te gaan.

34. Maar Hy antwoord: Ek sê vir jou, Petrus, die haan sal vannag nie kraai voordat jy drie maal geloën het dat jy My ken nie.

35. EN Hy sê vir hulle: Toe Ek julle uitgestuur het sonder beurs en reissak en skoene, het julle iets kortgekom? En hulle antwoord: Niks nie.

36. Toe sê Hy vir hulle: Maar nou, wie ’n beurs het, laat hom dit neem en so ook die reissak; en wie dit nie het nie, moet sy kleed verkoop en ’n swaard koop.

37. Want Ek sê vir julle dat dit wat geskrywe is, nog aan My vervul moet word: En Hy is saam met misdadigers gereken. Want ook aan die dinge wat betrekking het op My, kom daar ’n einde.

38. Hulle sê vir Hom: Here, kyk hier is twee swaarde. En Hy antwoord hulle: Dit is genoeg.

39. EN Hy het vertrek en volgens gewoonte na die Olyfberg gegaan. En ook sy dissipels het Hom gevolg.

40. En toe Hy op die plek kom, sê Hy vir hulle: Bid dat julle nie in versoeking kom nie.

Lees volledige hoofstuk Lukas 22