Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 22:13-28 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

13. En hulle het gegaan en dit gevind soos Hy vir hulle gesê het, en die pasga berei.

14. En toe die uur kom, het Hy aan tafel gegaan en die twaalf apostels saam met Hom.

15. En Hy sê vir hulle: Ek het baie sterk daarna verlang om hierdie pasga met julle te eet voordat Ek ly.

16. Want Ek sê vir julle: Ek sal sekerlik nie meer daarvan eet voordat dit in die koninkryk van God vervul is nie.

17. En toe Hy ’n beker geneem het, dank Hy en sê: Neem dit en deel dit onder julle.

18. Want Ek sê vir julle: Ek sal sekerlik nie drink van die vrug van die wynstok voordat die koninkryk van God gekom het nie.

19. Daarop neem Hy brood, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan hulle en sê: Dit is my liggaam wat vir julle gegee word; doen dit tot my gedagtenis.

20. Net so neem Hy ook die beker ná die maaltyd en sê: Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed wat vir julle uitgestort word.

21. Maar kyk, die hand van hom wat My verraai, is by My aan tafel.

22. Die Seun van die mens gaan wel heen volgens wat bepaal is, maar wee daardie man deur wie Hy verraai word!

23. Toe begin hulle onder mekaar te vra wie van hulle dit tog kon wees wat dit sou doen.

24. EN daar het ook twis onder hulle ontstaan oor wie van hulle die grootste geag moet wees.

25. En Hy het vir hulle gesê: Die konings van die nasies heers oor hulle, en die wat gesag voer oor hulle, word weldoeners genoem.

26. Maar so moet julle nie wees nie; maar die oudste onder julle moet word soos die jongste, en wie ’n leier is, soos een wat dien.

27. Want wie is groter: die een wat aan tafel is, of die een wat dien? Is dit nie hy wat aan tafel is nie? Maar Ek is onder julle soos een wat dien.

28. En dit is julle wat altyddeur by My gebly het in my versoekinge.

Lees volledige hoofstuk Lukas 22