Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 2:42-52 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

42. En toe Hy twaalf jaar oud was, het hulle, volgens die gebruik van die fees, na Jerusalem opgegaan.

43. En nadat die feesdae vir hulle verby was, en terwyl hulle teruggaan, het die Kind Jesus in Jerusalem agtergebly; en Josef en sy moeder het dit nie geweet nie.

44. Maar omdat hulle gedink het dat Hy by die reisgeselskap was, het hulle ’n dagreis ver gegaan en Hom onder die familie en onder die bekendes gesoek.

45. En toe hulle Hom nie vind nie, het hulle teruggegaan na Jerusalem en Hom gesoek.

46. En ná drie dae het hulle Hom in die tempel gevind, terwyl Hy in die midde van die leraars sit en na hulle luister en hulle uitvra.

47. En almal wat Hom gehoor het, was verbaas oor sy verstand en sy antwoorde.

48. En toe hulle Hom sien, was hulle verslae. En sy moeder sê vir Hom: Kind, waarom het jy so met ons gemaak? Kyk, jou vader en ek het jou met angs gesoek.

49. En Hy sê vir hulle: Waarom het u My gesoek? Het u nie geweet dat Ek in die dinge van my Vader moet wees nie?

50. En hulle het die woord wat Hy aan hulle gesê het, nie verstaan nie.

51. En Hy het saam met hulle gegaan en in Násaret gekom, en Hy was hulle onderdanig. En sy moeder het al hierdie dinge in haar hart bewaar.

52. En Jesus het toegeneem in wysheid en grootte en in genade by God en die mense.

Lees volledige hoofstuk Lukas 2