Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 2:33-52 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

33. En Josef en sy moeder het hulle verwonder oor die dinge wat van Hom gesê is.

34. En Símeon het hulle geseën en aan Maria, sy moeder, gesê: Kyk, hierdie Kind is bestemd tot ’n val en ’n opstanding van baie in Israel en tot ’n teken wat weerspreek sal word —

35. ja, ’n swaard sal deur jou eie siel gaan — sodat die gedagtes uit baie harte openbaar kan word.

36. En daar was Anna, ’n profetes, die dogter van Fánuel, uit die stam van Aser. Sy was op baie ver gevorderde leeftyd en het van haar maagdom af sewe jaar lank met haar man saamgelewe;

37. en sy was ’n weduwee van omtrent vier-en-tagtig jaar. Sy het nie weggebly van die tempel nie, en met vaste en gebede God gedien, nag en dag.

38. En sy het in dieselfde uur daar gekom en die Here geprys en van Hom gespreek met almal in Jerusalem wat die verlossing verwag het.

39. En toe hulle alles volbring het wat volgens die wet van die Here was, het hulle teruggegaan na Galiléa, na hulle stad Násaret.

40. En die Kindjie het gegroei en sterk geword in die Gees en vol van wysheid. En die genade van God was op Hom.

41. EN sy ouers was gewoond om elke jaar met die paasfees na Jerusalem te gaan.

42. En toe Hy twaalf jaar oud was, het hulle, volgens die gebruik van die fees, na Jerusalem opgegaan.

43. En nadat die feesdae vir hulle verby was, en terwyl hulle teruggaan, het die Kind Jesus in Jerusalem agtergebly; en Josef en sy moeder het dit nie geweet nie.

44. Maar omdat hulle gedink het dat Hy by die reisgeselskap was, het hulle ’n dagreis ver gegaan en Hom onder die familie en onder die bekendes gesoek.

45. En toe hulle Hom nie vind nie, het hulle teruggegaan na Jerusalem en Hom gesoek.

46. En ná drie dae het hulle Hom in die tempel gevind, terwyl Hy in die midde van die leraars sit en na hulle luister en hulle uitvra.

47. En almal wat Hom gehoor het, was verbaas oor sy verstand en sy antwoorde.

48. En toe hulle Hom sien, was hulle verslae. En sy moeder sê vir Hom: Kind, waarom het jy so met ons gemaak? Kyk, jou vader en ek het jou met angs gesoek.

49. En Hy sê vir hulle: Waarom het u My gesoek? Het u nie geweet dat Ek in die dinge van my Vader moet wees nie?

50. En hulle het die woord wat Hy aan hulle gesê het, nie verstaan nie.

51. En Hy het saam met hulle gegaan en in Násaret gekom, en Hy was hulle onderdanig. En sy moeder het al hierdie dinge in haar hart bewaar.

52. En Jesus het toegeneem in wysheid en grootte en in genade by God en die mense.

Lees volledige hoofstuk Lukas 2