Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 2:23-37 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

23. soos geskrywe is in die wet van die Here: Elke manlike kind wat die moederskoot open, sal heilig vir die Here genoem word;

24. en om die offer te gee volgens wat gesê is in die wet van die Here: ’n paar tortelduiwe of twee jong duiwe.

25. EN daar was ’n man in Jerusalem met die naam van Símeon; en hierdie man was regverdig en vroom en het die vertroosting van Israel verwag, en die Heilige Gees was op hom.

26. En aan hom was dit deur die Heilige Gees geopenbaar dat hy die dood nie sou sien voordat hy die Christus van die Here gesien het nie.

27. En hy het deur die Gees in die tempel gekom; en toe die ouers die Kindjie Jesus inbring om met Hom te handel volgens die gebruik van die wet,

28. het hy Hom in sy arms geneem en God geloof en gesê:

29. Nou laat U, Here, u dienskneg gaan in vrede volgens u woord,

30. omdat my oë u heil gesien het,

31. wat U berei het voor die oë van al die volke —

32. ’n lig tot verligting van die nasies en tot heerlikheid van u volk Israel.

33. En Josef en sy moeder het hulle verwonder oor die dinge wat van Hom gesê is.

34. En Símeon het hulle geseën en aan Maria, sy moeder, gesê: Kyk, hierdie Kind is bestemd tot ’n val en ’n opstanding van baie in Israel en tot ’n teken wat weerspreek sal word —

35. ja, ’n swaard sal deur jou eie siel gaan — sodat die gedagtes uit baie harte openbaar kan word.

36. En daar was Anna, ’n profetes, die dogter van Fánuel, uit die stam van Aser. Sy was op baie ver gevorderde leeftyd en het van haar maagdom af sewe jaar lank met haar man saamgelewe;

37. en sy was ’n weduwee van omtrent vier-en-tagtig jaar. Sy het nie weggebly van die tempel nie, en met vaste en gebede God gedien, nag en dag.

Lees volledige hoofstuk Lukas 2