Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 18:6-20 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

6. Toe sê die Here: Hoor wat die onregverdige regter sê.

7. Sal God dan nie reg doen aan sy uitverkorenes wat dag en nag tot Hom roep nie, al is Hy ook lankmoedig in hulle geval?

8. Ek sê vir julle dat Hy gou aan hulle reg sal doen; maar as die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind?

9. EN Hy het ook met die oog op sommige wat op hulleself vertrou dat hulle regverdig is en die ander verag, hierdie gelykenis vertel.

10. Twee manne het na die tempel opgegaan om te bid, die een ’n Fariseër en die ander ’n tollenaar.

11. En die Fariseër het gaan staan en by homself so gebid: o God, ek dank U dat ek nie soos die ander mense is nie — rowers, onregverdiges, egbrekers, of ook soos hierdie tollenaar nie.

12. Ek vas twee keer in die week, ek gee tiendes van alles wat ek verkry.

13. En die tollenaar het ver weg gestaan en wou selfs nie sy oë na die hemel ophef nie, maar het op sy bors geslaan en gesê: o God, wees my, sondaar, genadig!

14. Ek sê vir julle, hierdie laaste een het geregverdig na sy huis gegaan eerder as die eerste een; want elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, en hy wat homself verneder, sal verhoog word.

15. EN hulle het ook die klein kindertjies na Hom gebring, sodat Hy hulle kon aanraak; en toe die dissipels dit sien, het hulle hul bestraf.

16. Maar Jesus het hulle na Hom geroep en gesê: Laat die kindertjies na My toe kom en verhinder hulle nie, want aan sulkes behoort die koninkryk van God.

17. Voorwaar Ek sê vir julle, elkeen wat die koninkryk van God nie soos ’n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.

18. EN ’n sekere owerste vra Hom en sê: Goeie Meester, wat moet ek doen om die ewige lewe te beërwe?

19. En Jesus antwoord hom: Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie behalwe een, naamlik God.

20. Jy ken die gebooie: Jy mag nie egbreek nie; jy mag nie doodslaan nie; jy mag nie steel nie; jy mag geen valse getuienis gee nie; eer jou vader en jou moeder.

Lees volledige hoofstuk Lukas 18