Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 15:14-24 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

14. En toe hy alles deurgebring het, kom daar ’n swaar hongersnood in daardie land, en hy het begin gebrek ly.

15. Toe het hy hom by een van die burgers van daardie land gaan voeg. En dié het hom in sy veld gestuur om varke op te pas.

16. En hy het verlang om sy maag te vul met die peule wat die varke eet, en niemand het dit aan hom gegee nie.

17. Maar hy het tot homself gekom en gesê: Hoe baie huurlinge van my vader het oorvloed van brood, en ek vergaan van honger!

18. Ek sal opstaan en na my vader gaan, en ek sal vir hom sê: Vader, ek het gesondig teen die hemel en voor u,

19. en ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie; maak my soos een van u huurlinge.

20. En hy het opgestaan en na sy vader gegaan. En toe hy nog ver was, het sy vader hom gesien en innig jammer vir hom gevoel en gehardloop en hom omhels en hartlik gesoen.

21. En die seun sê vir hom: Vader, ek het gesondig teen die hemel en voor u en ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie.

22. Maar die vader sê vir sy diensknegte: Bring die beste kleed en trek hom dit aan, en gee ’n ring vir sy hand en skoene vir sy voete.

23. En bring die vetgemaakte kalf en slag dit, en laat ons eet en vrolik wees.

24. Want hierdie seun van my was dood en het weer lewendig geword; en hy was verlore en is gevind. En hulle het begin vrolik word.

Lees volledige hoofstuk Lukas 15