Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 15:1-17 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. EN al die tollenaars en sondaars het die gewoonte gehad om na Hom te kom en na Hom te luister.

2. En die Fariseërs en die skrifgeleerdes het baie gemurmureer en gesê: Hierdie man ontvang sondaars en eet saam met hulle.

3. Toe vertel Hy aan hulle hierdie gelykenis en sê:

4. Watter man onder julle wat honderd skape het en een van hulle verloor, laat nie die negen-en-negentig in die woestyn staan en gaan agter die een aan wat verlore is totdat hy dit kry nie?

5. En as hy dit kry, sit hy dit met blydskap op sy skouers.

6. En as hy by die huis kom, roep hy sy vriende en bure bymekaar en sê vir hulle: Wees saam met my bly, want ek het my skaap gekry wat verlore was.

7. Ek sê vir julle dat daar net so blydskap sal wees in die hemel oor een sondaar wat hom bekeer, meer as oor negen-en-negentig regverdiges wat die bekering nie nodig het nie.

8. Of watter vrou wat tien pennings het, as sy een penning verloor, steek nie ’n lamp op en vee die huis uit en soek sorgvuldig totdat sy dit kry nie?

9. En as sy dit kry, roep sy haar vriendinne en buurvroue bymekaar en sê: Wees saam met my bly, want ek het die penning gekry wat ek verloor het.

10. So, sê Ek vir julle, is daar blydskap voor die engele van God oor een sondaar wat hom bekeer.

11. HY het ook gesê: ’n Man het twee seuns gehad.

12. En die jongste van hulle het vir sy vader gesê: Vader, gee my die deel van die eiendom wat my toekom. En hy het die goed tussen hulle verdeel.

13. En nie baie dae daarna nie het die jongste seun alles bymekaargemaak en weggereis na ’n ver land. En daar het hy sy eiendom verkwis deur losbandig te lewe.

14. En toe hy alles deurgebring het, kom daar ’n swaar hongersnood in daardie land, en hy het begin gebrek ly.

15. Toe het hy hom by een van die burgers van daardie land gaan voeg. En dié het hom in sy veld gestuur om varke op te pas.

16. En hy het verlang om sy maag te vul met die peule wat die varke eet, en niemand het dit aan hom gegee nie.

17. Maar hy het tot homself gekom en gesê: Hoe baie huurlinge van my vader het oorvloed van brood, en ek vergaan van honger!

Lees volledige hoofstuk Lukas 15