Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 13:11-26 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

11. En daar was ’n vrou wat ’n gees van krankheid agttien jaar lank gehad het, en sy was inmekaargetrek en glad nie in staat om regop te kom nie.

12. En toe Jesus haar sien, roep Hy haar en sê: Vrou, jy is van jou krankheid verlos.

13. En Hy het haar die hande opgelê, en onmiddellik het sy regop gestaan en God verheerlik.

14. Maar die owerste van die sinagoge, wat verontwaardig was dat Jesus op die sabbat genees het, antwoord en sê vir die skare: Daar is ses dae waarop ’n mens behoort te werk; kom dan op dié dae en laat julle genees en nie op die sabbatdag nie.

15. Toe antwoord die Here hom en sê: Jou geveinsde, maak elkeen van julle nie op die sabbat sy os of esel van die krip los en lei hom weg om hom te laat drink nie?

16. Maar hierdie vrou wat ’n dogter van Abraham is, wat die Satan — dink daaraan! — agttien jaar lank gebind het, moes sy nie van hierdie band op die sabbatdag verlos word nie?

17. En toe Hy dit sê, het al sy teëstanders beskaamd geword; en die hele skare was bly oor al die heerlike dinge wat deur Hom gebeur het.

18. EN Hy het gesê: Hoedanig is die koninkryk van God en waarmee sal Ek dit vergelyk?

19. Dit is soos ’n mosterdsaad wat ’n man geneem en in sy tuin gesaai het; en dit het gegroei en ’n groot boom geword, en die voëls van die hemel het nes gemaak in sy takke.

20. En weer het Hy gesê: Waarmee sal Ek die koninkryk van God vergelyk?

21. Dit is soos suurdeeg wat ’n vrou neem en in drie mate meel inwerk totdat dit heeltemal ingesuur is.

22. EN onderwyl Hy geleer het en op reis was na Jerusalem, het Hy stede en dorpe deurgegaan.

23. Toe sê iemand vir Hom: Here, is die wat gered word, min? En Hy antwoord hulle:

24. Stry hard om in te gaan deur die nou poort, want baie, sê Ek vir julle, sal probeer om in te gaan en sal nie in staat wees nie.

25. Wanneer die eienaar van die huis opgestaan en die deur gesluit het, en julle begin buitekant te staan en aan die deur te klop en te sê: Here, Here, maak vir ons oop — sal Hy antwoord en vir julle sê: Ek ken julle nie waar julle vandaan is nie.

26. Dan sal julle begin sê: Ons het in u teenwoordigheid geëet en gedrink, en U het op ons strate geleer.

Lees volledige hoofstuk Lukas 13