Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 13:1-9 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. EN in dieselfde tyd was daar mense teenwoordig wat Hom berig gebring het van die Galiléërs wie se bloed Pilatus met hulle offers gemeng het.

2. En Jesus antwoord en sê vir hulle: Dink julle dat hierdie Galiléërs groter sondaars was as al die Galiléërs, omdat hulle sulke dinge gely het?

3. Nee, sê Ek vir julle; maar as julle jul nie bekeer nie, sal julle almal net so omkom.

4. Of daardie agttien op wie die toring van Silóam geval en hulle gedood het — dink julle dat hulle meer skuldig was as al die mense wat in Jerusalem woon?

5. Nee, sê Ek vir julle; maar as julle jul nie bekeer nie, sal julle almal net so omkom.

6. EN Hy het hierdie gelykenis uitgespreek: ’n Man het ’n vyeboom gehad wat in sy wingerd geplant was, en hy het gekom en vrugte daaraan gesoek en niks gekry nie.

7. Toe sê hy vir die tuinier: Kyk, drie jaar kom ek om vrugte aan hierdie vyeboom te soek en ek kry niks nie; kap hom uit. Waarvoor maak hy die grond nog onvrugbaar?

8. Maar hy antwoord en sê vir hom: Meneer, laat hom nog hierdie jaar staan totdat ek om hom gespit en mis gegooi het.

9. As hy dan vrugte dra, goed; maar so nie, dan kan u hom anderjaar uitkap.

Lees volledige hoofstuk Lukas 13