Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 12:32-46 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

32. Moenie vrees nie, klein kuddetjie, want julle Vader het ’n welbehae daarin gehad om aan julle die koninkryk te gee.

33. Verkoop julle besittings en gee aalmoese; maak vir julle beurse wat nie oud word nie, ’n skat in die hemel wat onuitputlik is, waar geen dief by kom of mot verteer nie.

34. Want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.

35. LAAT julle heupe omgord wees en julle lampe aan die brand.

36. En julle moet wees soos mense wat op hulle heer wag wanneer hy van die bruilof terugkom, sodat hulle dadelik vir hom kan oopmaak as hy kom en aanklop.

37. Gelukkig is daardie diensknegte vir wie die heer wakker sal vind as hy kom. Voorwaar Ek sê vir julle, hy sal hom omgord en hulle aan tafel laat gaan en hulle kom bedien.

38. En as hy in die tweede of in die derde nagwaak kom, en dit so vind — gelukkig is daardie diensknegte.

39. Maar weet dit: as die huisheer geweet het in watter uur die dief sou kom, sou hy gewaak het en nie in sy huis laat inbreek het nie.

40. Julle moet dan ook gereed wees, omdat die Seun van die mens kom op ’n uur dat julle dit nie verwag nie.

41. Toe sê Petrus vir Hom: Here, vertel U hierdie gelykenis vir ons of ook vir almal?

42. En die Here antwoord: Wie is dan die getroue en verstandige bestuurder wat die heer oor sy diensvolk sal aanstel om hulle rantsoen op tyd te gee?

43. Gelukkig is daardie dienskneg vir wie sy heer, as hy kom, só besig sal vind.

44. Waarlik, Ek sê vir julle, hy sal hom oor al sy besittings aanstel.

45. Maar as daardie dienskneg in sy hart sê: My heer talm om te kom, en hy die diensknegte en diensmaagde begin slaan, en begin eet en drink en dronk word,

46. dan sal die heer van daardie dienskneg kom op ’n dag dat hy dit nie verwag nie, en op ’n uur dat hy dit nie weet nie, en sal hom pynig en hom ’n deelgenoot maak van die ontroues.

Lees volledige hoofstuk Lukas 12