Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 12:26-42 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

26. As julle dan selfs nie die geringste kan doen nie, waarom kwel julle jul oor die ander dinge?

27. Kyk na die lelies, hoe hulle groei: hulle arbei nie en hulle spin nie; en Ek sê vir julle, selfs Salomo in al sy heerlikheid was nie bekleed soos een van hulle nie.

28. As God dan die gras van die veld wat vandag daar is en môre in ’n oond gegooi word, so beklee, hoeveel meer vir julle, kleingelowiges!

29. Julle moet ook nie soek wat julle sal eet of wat julle sal drink nie, en julle nie ongerus maak nie;

30. want al hierdie dinge soek die nasies van die wêreld, en julle Vader weet dat julle hierdie dinge nodig het.

31. Maar soek die koninkryk van God, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.

32. Moenie vrees nie, klein kuddetjie, want julle Vader het ’n welbehae daarin gehad om aan julle die koninkryk te gee.

33. Verkoop julle besittings en gee aalmoese; maak vir julle beurse wat nie oud word nie, ’n skat in die hemel wat onuitputlik is, waar geen dief by kom of mot verteer nie.

34. Want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.

35. LAAT julle heupe omgord wees en julle lampe aan die brand.

36. En julle moet wees soos mense wat op hulle heer wag wanneer hy van die bruilof terugkom, sodat hulle dadelik vir hom kan oopmaak as hy kom en aanklop.

37. Gelukkig is daardie diensknegte vir wie die heer wakker sal vind as hy kom. Voorwaar Ek sê vir julle, hy sal hom omgord en hulle aan tafel laat gaan en hulle kom bedien.

38. En as hy in die tweede of in die derde nagwaak kom, en dit so vind — gelukkig is daardie diensknegte.

39. Maar weet dit: as die huisheer geweet het in watter uur die dief sou kom, sou hy gewaak het en nie in sy huis laat inbreek het nie.

40. Julle moet dan ook gereed wees, omdat die Seun van die mens kom op ’n uur dat julle dit nie verwag nie.

41. Toe sê Petrus vir Hom: Here, vertel U hierdie gelykenis vir ons of ook vir almal?

42. En die Here antwoord: Wie is dan die getroue en verstandige bestuurder wat die heer oor sy diensvolk sal aanstel om hulle rantsoen op tyd te gee?

Lees volledige hoofstuk Lukas 12