Ou Testament

Nuwe Testament

Kolossense 1:10-27 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

10. sodat julle waardiglik voor die Here mag wandel om Hom in alles te behaag en julle in elke goeie werk vrug mag dra en in die kennis van God mag groei,

11. en met alle krag bekragtig word volgens die mag van sy heerlikheid tot alle lydsaamheid en lankmoedigheid met blydskap,

12. en die Vader mag dank wat ons bekwaam gemaak het om deel te hê aan die erfdeel van die heiliges in die lig —

13. Hy wat ons verlos het uit die mag van die duisternis en oorgebring het in die koninkryk van die Seun van sy liefde,

14. in wie ons die verlossing het deur sy bloed, naamlik die vergifnis van die sondes.

15. Hy is die Beeld van die onsienlike God, die Eersgeborene van die hele skepping;

16. want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte — alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape.

17. En Hy is voor alle dinge, en in Hom hou alle dinge stand.

18. En Hy is die Hoof van die liggaam, naamlik die gemeente; Hy wat die begin is, die Eersgeborene uit die dode, sodat Hy in alles die eerste kan wees.

19. Want dit het die Vader behaag dat in Hom die ganse volheid sou woon

20. en dat Hy deur Hom alles met Homself sou versoen nadat Hy vrede gemaak het deur die bloed van sy kruis — ek sê deur Hom — die dinge op die aarde sowel as die dinge in die hemele.

21. Ook julle wat vroeër vervreemd was en vyandig gesind deur die bose werke, het Hy nou versoen

22. in die liggaam van sy vlees deur die dood, om julle heilig en sonder gebrek en onberispelik voor Hom te stel;

23. as julle ten minste gegrond en vas bly in die geloof en julle nie laat afbring van die hoop van die evangelie nie, wat julle gehoor het en wat verkondig is in die ganse mensdom onder die hemel, waarvan ek, Paulus, ’n dienaar geword het.

24. NOU verbly ek my in my lyding vir julle en vul in my vlees aan die oorblyfsels van die verdrukking van Christus vir sy liggaam, wat die gemeente is;

25. waarvan ek ’n dienaar geword het volgens die bediening van God wat aan my gegee is in julle belang, om die woord van God te vervul,

26. naamlik die verborgenheid wat van die eeue en geslagte af verborge was, maar nou geopenbaar is aan sy heiliges,

27. aan wie God wou bekend maak wat die rykdom van die heerlikheid van hierdie verborgenheid onder die heidene is, dit is Christus onder julle, die hoop van die heerlikheid.

Lees volledige hoofstuk Kolossense 1