Ou Testament

Nuwe Testament

Judas 1:1-11 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. JUDAS, ’n dienskneg van Jesus Christus en broer van Jakobus, aan die wat geroep, in God die Vader geheilig en vir Jesus Christus bewaar is:

2. Mag barmhartigheid en vrede en liefde vir julle vermenigvuldig word!

3. GELIEFDES, terwyl ek alle ywer aanwend om aan julle oor ons gemeenskaplike saligheid te skrywe, het ek die noodsaaklikheid gevoel om julle deur my skrywe te vermaan om kragtig te stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is.

4. Want sekere mense het ingesluip wat lank tevore al opgeskryf is vir hierdie oordeel, goddelose mense wat die genade van onse God verander in ongebondenheid, en die enigste Heerser, God, en onse Here Jesus Christus verloën.

5. Maar ek wil julle daaraan herinner, al weet julle dit nou eenmaal, dat die Here, nadat Hy die volk uit Egipteland gered het, daarna die wat ongelowig was, omgebring het.

6. En die engele wat hul eie beginsel nie bewaar het nie, maar hul eie woning verlaat het, het Hy vir die oordeel van die groot dag met ewige boeie onder die duisternis bewaar;

7. soos Sodom en Gomorra en die stede rondom hulle, wat op dieselfde manier as hierdie mense gehoereer en agter vreemde vlees aangeloop het, as ’n voorbeeld gestel is, terwyl hulle die straf van die ewige vuur ondergaan.

8. Tog besoedel ook hierdie mense net so in hulle dromerye die vlees en verag die heerskappy en laster die heerlike wesens.

9. Maar toe Mígael, die aartsengel, met die duiwel in woordestryd was oor die liggaam van Moses, het hy geen oordeel van lastering durf uitspreek nie, maar het gesê: Die Here bestraf jou!

10. Maar hierdie mense belaster alles wat hulle nie ken nie; en alles wat hulle, soos die redelose diere, op natuurlike wyse verstaan, daardeur gaan hulle te gronde.

11. Wee hulle, want hulle het die weg van Kain bewandel en om loon hulleself in die verleiding van Bíleam gestort en in die verset van Korag omgekom.

Lees volledige hoofstuk Judas 1