Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 9:24-40 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

24. Hulle roep toe vir die tweede keer die man wat blind was, en sê vir hom: Gee aan God die eer; ons weet dat hierdie man ’n sondaar is.

25. En hy antwoord en sê: Of Hy ’n sondaar is, weet ek nie. Een ding weet ek: dat ek blind was en nou sien.

26. En hulle sê weer vir hom: Wat het Hy vir jou gedoen? Hoe het Hy jou oë geopen?

27. Hy antwoord hulle: Ek het julle dit alreeds gesê, en julle het nie geluister nie. Waarom wil julle dit weer hoor? Julle wil tog nie ook sy dissipels word nie?

28. Hulle skel hom toe uit en sê: Jý is ’n dissipel van daardie man, maar ons is dissipels van Moses.

29. Ons weet dat God met Moses gespreek het; maar wat Hom betref, ons weet nie van waar Hy is nie.

30. Die man antwoord en sê vir hulle: Hierin is tog iets wonderliks dat julle nie weet van waar Hy is nie, en Hy het my oë geopen!

31. En ons weet dat God nie sondaars verhoor nie; maar as iemand godvresend is en sy wil doen, dié verhoor Hy.

32. Van ouds af is dit nie gehoor dat iemand die oë van ’n blindgebore mens geopen het nie.

33. As Hy nie van God was nie, sou Hy niks kan doen nie.

34. Hulle antwoord en sê vir hom: Jy is heeltemal in sondes gebore, en leer jy ons? En hulle het hom uitgeban.

35. Jesus het gehoor dat hulle hom uitgeban het; en toe Hy hom kry, sê Hy vir hom: Glo jy in die Seun van God?

36. Hy antwoord en sê: Wie is Hy, Here, dat ek in Hom kan glo?

37. En Jesus sê vir hom: Jy het Hom gesien; en Hy wat met jou spreek, dit is Hy.

38. Toe sê hy: Ek glo, Here! En hy het Hom aanbid.

39. En Jesus sê: Tot ’n oordeel het Ek in hierdie wêreld gekom, sodat die wat nie sien nie, mag sien, en die wat sien, blind mag word.

40. En dié van die Fariseërs wat by Hom was, het dit gehoor en vir Hom gesê: Is ons dan ook blind?

Lees volledige hoofstuk Johannes 9