Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 8:32-44 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

32. En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.

33. Hulle antwoord Hom: Ons is die geslag van Abraham en het nog nooit vir iemand slawediens verrig nie; hoe sê U dan: Julle sal vry word?

34. Jesus antwoord hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle dat elkeen wat die sonde doen, ’n dienskneg van die sonde is.

35. En die dienskneg bly nie vir altyd in die huis nie; die seun bly vir altyd.

36. As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees.

37. Ek weet dat julle die geslag van Abraham is; maar julle probeer om My om die lewe te bring, omdat my woord geen ingang in julle vind nie.

38. Ek spreek van wat Ek by my Vader gesien het, en julle doen ook wat julle by jul vader gesien het.

39. Hulle antwoord en sê vir Hom: Ons vader is Abraham. Jesus sê vir hulle: As julle die kinders van Abraham was, sou julle die werke van Abraham doen;

40. maar nou probeer julle om My om die lewe te bring, iemand wat aan julle die waarheid vertel het, wat Ek van God gehoor het. Dit het Abraham nie gedoen nie.

41. Julle doen die werke van jul vader. Toe sê hulle vir Hom: Ons is nie uit ontug gebore nie; ons het een Vader, naamlik God.

42. En Jesus sê vir hulle: As God julle Vader was, sou julle My liefhê, want Ek het uit God uitgegaan en gekom; want Ek het ook nie uit Myself gekom nie, maar Hy het My gestuur.

43. Waarom ken julle my spraak nie? Omdat julle na my woord nie kan luister nie.

44. Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was ’n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy ’n leuenaar is en die vader daarvan.

Lees volledige hoofstuk Johannes 8