Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 7:26-43 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

26. En kyk, Hy spreek openlik en hulle sê vir Hom niks nie! Sou die owerstes dan waarlik weet dat Hy werklik die Christus is?

27. En hierdie man — ons weet van waar Hy is; maar die Christus, wanneer Hy kom, weet niemand van waar Hy is nie.

28. Jesus roep toe uit, terwyl Hy in die tempel leer, en sê: Julle ken My en julle weet ook van waar Ek is; tog het Ek nie uit Myself gekom nie; maar Hy wat My gestuur het, is waaragtig, vir wie julle nie ken nie.

29. Maar Ek ken Hom, omdat Ek van Hom kom en Hy My gestuur het.

30. Toe probeer hulle om Hom gevange te neem; en niemand het die hand aan Hom geslaan nie, omdat sy uur nog nie gekom het nie.

31. Maar baie van die skare het in Hom geglo en gesê: Wanneer die Christus kom, sal Hy meer tekens doen as wat hierdie man gedoen het?

32. Die Fariseërs het gehoor dat die skare dit van Hom mompel, en die Fariseërs en die owerpriesters het dienaars gestuur om Hom gevange te neem.

33. Toe sê Jesus vir hulle: Nog ’n klein tydjie is Ek by julle, en Ek gaan na Hom wat My gestuur het.

34. Julle sal My soek en nie vind nie; en waar Ek is, kan julle nie kom nie.

35. En die Jode sê onder mekaar: Waar wil Hy heengaan, dat ons Hom nie sal vind nie? Hy wil tog nie na die verstrooides onder die Grieke gaan en die Grieke leer nie?

36. Wat beteken hierdie woord wat Hy gesê het: Julle sal My soek en nie vind nie; en waar Ek is, kan julle nie kom nie?

37. En op die laaste dag, die groot dag van die fees, het Jesus gestaan en uitgeroep en gesê: As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink!

38. Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei.

39. En dit het Hy gesê van die Gees wat dié sou ontvang wat in Hom glo; want die Heilige Gees was daar nog nie, omdat Jesus nog nie verheerlik was nie.

40. Baie van die skare het, toe hulle die woord hoor, gesê: Hy is waarlik die profeet.

41. Ander het gesê: Hy is die Christus. En ander het gesê: Kom die Christus dan uit Galiléa?

42. Het die Skrif nie gesê dat die Christus uit die geslag van Dawid kom en uit Betlehem, die dorp waar Dawid was nie?

43. Daar het toe verdeeldheid onder die skare gekom oor Hom.

Lees volledige hoofstuk Johannes 7