Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 6:1-19 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. DAARNA het Jesus na die oorkant van die see van Galiléa, dit is, van Tibérias, gegaan;

2. en ’n groot menigte het Hom gevolg, omdat hulle sy tekens gesien het wat Hy aan die siekes doen.

3. En Jesus het op die berg geklim en daar met sy dissipels gaan sit.

4. En die pasga, die fees van die Jode, was naby.

5. Toe Jesus dan sy oë opslaan en sien dat ’n groot menigte na Hom kom, sê Hy vir Filippus: Waarvandaan sal ons brood koop, sodat hierdie mense kan eet?

6. Maar Hy het dit gesê om hom op die proef te stel, want Hy het self geweet wat Hy wou doen.

7. Filippus antwoord Hom: Brood vir tweehonderd pennings sal nie genoeg wees vir hulle, sodat elkeen van hulle ’n stukkie kan kry nie.

8. Een van sy dissipels, Andréas, Simon Petrus se broer, sê vir Hom:

9. Hier is ’n seuntjie wat vyf garsbrode en twee vissies het, maar wat is dit vir so baie mense?

10. En Jesus sê: Laat die mense gaan sit. En daar was baie gras op dié plek. Die manne het toe gaan sit, omtrent vyfduisend in getal.

11. En Jesus het die brode geneem, en nadat Hy gedank het, deel Hy dit uit aan die dissipels en die dissipels aan die wat daar sit; so ook van die vissies, soveel as hulle wou hê.

12. En nadat hulle versadig was, sê Hy vir sy dissipels: Maak die brokstukke bymekaar wat oorgeskiet het, sodat niks verlore gaan nie.

13. Hulle maak toe bymekaar en het twaalf mandjies gevul met brokstukke van die vyf garsbrode wat oorgeskiet het by die wat geëet het.

14. Toe die mense dan die teken sien wat Jesus gedoen het, sê hulle: Hy is waarlik die profeet wat in die wêreld sou kom.

15. En toe Jesus merk dat hulle wou kom en Hom met geweld neem om Hom koning te maak, het Hy weer weggegaan na die berg, Hy alleen.

16. EN toe dit aand geword het, het sy dissipels afgegaan na die see toe.

17. En nadat hulle in die skuit geklim het, het hulle oor die see gevaar na Kapérnaüm; en dit was al donker, en Jesus het nog nie by hulle gekom nie.

18. En die see was onstuimig, omdat ’n sterk wind gewaai het.

19. En toe hulle omtrent drie of vier myl geroei het, sien hulle Jesus op die see loop en naby die skuit kom; en hulle het bang geword.

Lees volledige hoofstuk Johannes 6