Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 5:25-39 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

25. Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, daar kom ’n uur, en dit is nou, wanneer die dode die stem van die Seun van God sal hoor; en die wat dit gehoor het, sal lewe.

26. Want soos die Vader lewe het in Homself, so het Hy aan die Seun ook gegee om lewe in Homself te hê.

27. En Hy het Hom mag gegee om ook te oordeel, omdat Hy die Seun van die mens is.

28. Moenie julle hieroor verwonder nie. Want daar kom ’n uur wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor

29. en sal uitgaan, die wat goed gedoen het, tot die opstanding van die lewe, en die wat kwaad gedoen het, tot die opstanding van die veroordeling.

30. Ek kan uit Myself niks doen nie. Soos Ek hoor, oordeel Ek; en my oordeel is regverdig, omdat Ek nie my wil soek nie, maar die wil van die Vader wat My gestuur het.

31. As Ek van Myself getuig, is my getuienis nie waar nie.

32. Daar is ’n ander Een wat van My getuig, en Ek weet dat die getuienis wat Hy van My getuig, waar is.

33. Julle het na Johannes gestuur, en hy het vir die waarheid getuig.

34. Maar Ek neem die getuienis van ’n mens nie aan nie; maar Ek sê dit, dat julle gered kan word.

35. Hy was die lamp wat brand en skyn, en julle was gewillig om julle vir ’n tyd in sy lig te verbly.

36. Maar Ek het ’n groter getuienis as dié van Johannes, want die werke wat die Vader My gegee het om te volbring, die werke self wat Ek doen, getuig van My dat die Vader My gestuur het.

37. En die Vader wat My gestuur het, Hy het van My getuig. Julle het nog nooit sy stem gehoor of sy gedaante gesien nie.

38. En julle het sy woord nie as iets blywends in julle nie, omdat julle Hom wat Hy gestuur het, nie glo nie.

39. Julle ondersoek die Skrifte, omdat julle meen dat julle daarin die ewige lewe het; en dit is dié wat van My getuig.

Lees volledige hoofstuk Johannes 5