Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 4:43-54 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

43. EN ná die twee dae het Hy daarvandaan weggegaan en na Galiléa vertrek.

44. Want Jesus self het getuig dat ’n profeet in sy eie vaderland geen eer ontvang nie.

45. Toe Hy dan in Galiléa kom, het die Galiléërs Hom ontvang, omdat hulle alles gesien het wat Hy in Jerusalem op die fees gedoen het; want hulle het ook na die fees gegaan.

46. Jesus het dan weer gekom te Kana in Galiléa, waar Hy die water wyn gemaak het. En daar was ’n sekere koninklike beampte wie se seun in Kapérnaüm siek was.

47. Toe hy hoor dat Jesus uit Judéa in Galiléa gekom het, gaan hy na Hom en vra Hom om af te kom en sy seun gesond te maak, want hy het op sterwe gelê.

48. Jesus sê toe vir hom: As julle nie tekens en wonders sien nie, sal julle nooit glo nie.

49. Die koninklike beampte sê vir Hom: Here, kom af voordat my kind sterwe.

50. Jesus antwoord hom: Gaan, jou seun lewe! En die man het die woord geglo wat Jesus vir hom gesê het, en hy het gegaan.

51. En toe hy al op pad was huis toe, kom sy diensknegte hom tegemoet en bring die berig en sê: U kind lewe!

52. Hy verneem toe van hulle die uur waarop hy beter geword het. En hulle sê vir hom: Gister, die sewende uur, het die koors hom verlaat.

53. Die vader merk toe dat dit daardie uur was waarop Jesus vir hom gesê het: Jou seun lewe! En hy het self geglo en sy hele huis.

54. Hierdie tweede teken weer het Jesus gedoen toe Hy uit Judéa in Galiléa gekom het.

Lees volledige hoofstuk Johannes 4