Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 4:39-52 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

39. En baie van die Samaritane uit daardie stad het in Hom geglo oor die woord van die vrou wat getuig het: Hy het my alles vertel wat ek gedoen het.

40. Toe die Samaritane dan by Hom kom, het hulle by Hom aangedring om by hulle te bly; en Hy het daar twee dae gebly.

41. En baie meer het op grond van sy woord geglo

42. en aan die vrou gesê: Ons glo nie meer op grond van wat jy gesê het nie, want ons het self gehoor en ons weet dat Hy waarlik die Christus, die Saligmaker van die wêreld, is.

43. EN ná die twee dae het Hy daarvandaan weggegaan en na Galiléa vertrek.

44. Want Jesus self het getuig dat ’n profeet in sy eie vaderland geen eer ontvang nie.

45. Toe Hy dan in Galiléa kom, het die Galiléërs Hom ontvang, omdat hulle alles gesien het wat Hy in Jerusalem op die fees gedoen het; want hulle het ook na die fees gegaan.

46. Jesus het dan weer gekom te Kana in Galiléa, waar Hy die water wyn gemaak het. En daar was ’n sekere koninklike beampte wie se seun in Kapérnaüm siek was.

47. Toe hy hoor dat Jesus uit Judéa in Galiléa gekom het, gaan hy na Hom en vra Hom om af te kom en sy seun gesond te maak, want hy het op sterwe gelê.

48. Jesus sê toe vir hom: As julle nie tekens en wonders sien nie, sal julle nooit glo nie.

49. Die koninklike beampte sê vir Hom: Here, kom af voordat my kind sterwe.

50. Jesus antwoord hom: Gaan, jou seun lewe! En die man het die woord geglo wat Jesus vir hom gesê het, en hy het gegaan.

51. En toe hy al op pad was huis toe, kom sy diensknegte hom tegemoet en bring die berig en sê: U kind lewe!

52. Hy verneem toe van hulle die uur waarop hy beter geword het. En hulle sê vir hom: Gister, die sewende uur, het die koors hom verlaat.

Lees volledige hoofstuk Johannes 4