Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 4:21-39 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

21. Jesus sê vir haar: Vrou, glo My, daar kom ’n uur wanneer julle nie op hierdie berg en ook nie in Jerusalem die Vader sal aanbid nie.

22. Julle aanbid wat julle nie weet nie; ons aanbid wat ons weet, want die saligheid is uit die Jode.

23. Maar daar kom ’n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid.

24. God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.

25. Die vrou sê vir Hom: Ek weet dat die Messías kom, Hy wat Christus genoem word. Wanneer Hy kom, sal Hy ons alles verkondig.

26. Jesus sê vir haar: Dit is Ek wat met jou spreek!

27. En op dié oomblik het sy dissipels gekom en hulle verwonder dat Hy met ’n vrou in gesprek was. Tog het niemand gesê: Wat verlang U nie? of: Waarom spreek U met haar?

28. Die vrou het toe haar waterkan laat staan en na die stad gegaan en vir die mense gesê:

29. Kom kyk ’n man wat my alles vertel het wat ek gedoen het. Is Hy nie miskien die Christus nie?

30. Hulle het toe uit die stad gegaan en na Hom gekom.

31. EN intussen het sy dissipels by Hom aangedring en gesê: Rabbi, eet.

32. Maar Hy sê vir hulle: Ek het voedsel om te eet waar julle nie van weet nie.

33. Die dissipels sê toe vir mekaar: Het iemand dan vir Hom ete gebring?

34. Jesus sê vir hulle: My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het en om sy werk te volbring.

35. Sê julle nie: Dit is nog vier maande, dan kom die oes nie? Kyk, Ek sê vir julle, slaan julle oë op en aanskou die lande dat hulle al wit is vir die oes.

36. En hy wat maai, ontvang loon en vergader vrug vir die ewige lewe, sodat die saaier en die maaier saam bly kan wees.

37. Want hierin is die woord waar: Dit is een wat saai, en ’n ander wat maai.

38. Ek het julle gestuur om te maai waar julle nie aan gewerk het nie. Ander het gewerk, en julle het in hulle arbeid ingegaan.

39. En baie van die Samaritane uit daardie stad het in Hom geglo oor die woord van die vrou wat getuig het: Hy het my alles vertel wat ek gedoen het.

Lees volledige hoofstuk Johannes 4