Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 2:12-25 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

12. Daarna het Hy na Kapérnaüm afgegaan, Hy en sy moeder en sy broers en sy dissipels, en hulle het daar nie baie dae gebly nie.

13. EN die pasga van die Jode was naby, en Jesus het opgegaan na Jerusalem.

14. En Hy het in die tempel gevind die wat beeste en skape en duiwe verkoop, en die geldwisselaars wat daar sit.

15. En Hy het ’n sweep van toutjies gemaak en almal uit die tempel uitgedrywe, ook die skape en die beeste, en die kleingeld van die wisselaars het Hy uitgegooi en hulle tafels omgekeer.

16. En vir die duiweverkopers het Hy gesê: Neem daardie dinge hier weg; moenie die huis van my Vader ’n handelshuis maak nie.

17. En sy dissipels het onthou dat daar geskrywe is: Die ywer vir u huis het my verteer.

18. Toe antwoord die Jode en sê vir Hom: Watter teken toon U aan ons, dat U hierdie dinge doen?

19. Jesus antwoord en sê vir hulle: Breek hierdie tempel af, en in drie dae sal Ek dit oprig.

20. En die Jode sê: Ses-en-veertig jaar lank is aan hierdie tempel gebou, en U, sal U dit in drie dae oprig?

21. Maar Hy het oor die tempel van sy liggaam gespreek.

22. En toe Hy opgestaan het uit die dode, het sy dissipels onthou dat Hy dit vir hulle gesê het; en hulle het die Skrif geglo en die woord wat Jesus gespreek het.

23. En toe Hy in Jerusalem was op die pasga gedurende die fees, het baie in sy Naam geglo, omdat hulle die tekens gesien het wat Hy doen.

24. Maar Jesus self het Hom aan hulle nie toevertrou nie, omdat Hy almal geken het

25. en omdat Hy nie nodig gehad het dat iemand van die mens sou getuig nie; want Hy self het geweet wat in die mens is.

Lees volledige hoofstuk Johannes 2