Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 12:22-34 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

22. Filippus kom en sê dit vir Andréas, en Andréas en Filippus vertel dit weer aan Jesus.

23. Maar Jesus antwoord hulle en sê: Die uur het gekom dat die Seun van die mens verheerlik moet word.

24. Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as die koringkorrel nie in die grond val en sterf nie, bly dit alleen; maar as dit sterf, dra dit veel vrug.

25. Wie sy lewe liefhet, sal dit verloor; maar wie sy lewe haat in hierdie wêreld, sal dit bewaar vir die ewige lewe.

26. As iemand My dien, laat hom My volg; en waar Ek is, daar sal my dienaar ook wees; en as iemand My dien, sal die Vader hom eer.

27. Nou is my siel ontsteld, en wat sal Ek sê? Vader, red My uit hierdie uur? Maar hierom het Ek in hierdie uur gekom.

28. Vader, verheerlik u Naam! Daar het toe ’n stem uit die hemel gekom: Ek hét dit verheerlik, en Ek sal dit weer verheerlik.

29. En die skare wat daar gestaan en dit gehoor het, het gesê dat daar ’n donderslag gewees het. Ander het gesê: ’n Engel het met Hom gespreek.

30. Jesus antwoord en sê: Hierdie stem het nie om My ontwil gekom nie, maar om julle ontwil.

31. Nou is dit die oordeel van hierdie wêreld, nou sal die owerste van hierdie wêreld buitentoe gedryf word.

32. En Ek, as Ek van die aarde verhoog word, sal almal na My toe trek.

33. En dit het Hy gesê om aan te dui hoedanige dood Hy sou sterwe.

34. Die skare antwoord Hom: Ons het uit die wet gehoor dat die Christus tot in ewigheid bly; en hoe sê U dat die Seun van die mens verhoog moet word? Wie is hierdie Seun van die mens?

Lees volledige hoofstuk Johannes 12