Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 12:10-25 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

10. En die owerpriesters het besluit om Lasarus ook om die lewe te bring,

11. omdat baie van die Jode deur hom weggegaan en in Jesus geglo het.

12. DIE volgende dag het ’n groot menigte feesgangers, toe hulle hoor dat Jesus na Jerusalem kom,

13. palmtakke geneem en uitgegaan Hom tegemoet en geroep: Hosanna! Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here, die Koning van Israel.

14. En Jesus het ’n jong esel gevind en daarop gaan sit, soos geskrywe is:

15. Moenie vrees nie, dogter van Sion! Kyk, jou Koning kom en Hy sit op die vul van ’n esel.

16. Dit het sy dissipels egter eers nie verstaan nie; maar nadat Jesus verheerlik is, toe het dit hulle bygeval dat hierdie dinge van Hom geskrywe was en dat hulle dit aan Hom gedoen het.

17. En die skare wat by Hom was toe Hy Lasarus uit die graf geroep en hom uit die dode opgewek het, het daarvan getuig.

18. Daarom het die skare Hom ook tegemoetgegaan, omdat hulle gehoor het dat Hy hierdie teken gedoen het.

19. En die Fariseërs het vir mekaar gesê: Sien julle dat julle niks vorder nie? Kyk, die hele wêreld loop agter Hom aan.

20. EN daar was sommige Grieke onder die wat opgekom het om op die fees te aanbid;

21. hulle het na Filippus gegaan wat van Betsáida in Galiléa was, en hom gevra en gesê: My heer, ons wil Jesus graag sien.

22. Filippus kom en sê dit vir Andréas, en Andréas en Filippus vertel dit weer aan Jesus.

23. Maar Jesus antwoord hulle en sê: Die uur het gekom dat die Seun van die mens verheerlik moet word.

24. Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as die koringkorrel nie in die grond val en sterf nie, bly dit alleen; maar as dit sterf, dra dit veel vrug.

25. Wie sy lewe liefhet, sal dit verloor; maar wie sy lewe haat in hierdie wêreld, sal dit bewaar vir die ewige lewe.

Lees volledige hoofstuk Johannes 12