Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 10:27-42 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

27. My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My.

28. En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie.

29. My vader wat hulle aan My gegee het, is groter as almal; en niemand kan hulle uit die hand van my Vader ruk nie.

30. Ek en die Vader is een.

31. Die Jode het toe weer klippe opgetel om Hom te stenig.

32. Jesus antwoord hulle: Baie goeie werke het Ek julle getoon van my Vader. Oor watter een van dié werke stenig julle My?

33. Die Jode antwoord Hom en sê: Dit is nie oor ’n goeie werk dat ons U stenig nie, maar oor godslastering, en omdat U wat ’n mens is, Uself God maak.

34. Jesus antwoord hulle: Is daar nie in julle wet geskrywe: Ek het gesê, julle is gode nie?

35. As dit húlle gode noem tot wie die woord van God gekom het, en die Skrif nie gebreek kan word nie,

36. sê julle vir Hom wat die Vader geheilig en in die wêreld gestuur het: U spreek godslasterlik — omdat Ek gesê het: Ek is die Seun van God?

37. As Ek nie die werke van my Vader doen nie, moet julle My nie glo nie;

38. maar as Ek dit doen, al glo julle My nie, glo die werke, dat julle kan erken en glo dat die Vader in My is, en Ek in Hom.

39. Toe het hulle weer probeer om Hom gevange te neem, en Hy het uit hulle hand ontkom.

40. En Hy het weer oor die Jordaan gegaan na die plek waar Johannes eers gedoop het; en Hy het daar gebly.

41. En baie het na Hom gekom en gesê: Johannes het wel geen teken gedoen nie, maar alles wat Johannes van Hom gesê het, was waar.

42. En baie het daar in Hom geglo.

Lees volledige hoofstuk Johannes 10